General

Liewe Kersvader

Ek wil graag vir Kersfees vanjaar goeters hê. Ek was baie soet gewees. Ek het hard gewerk en dinge vir ander mense gedoen wat dit nie waardeer of verdien het nie. My ma dink ek het my gesin afgeskeep om hierdie dinge te doen – dinge “wat ek wou doen”. Dit voel nie vir my so nie, dit voel soos alles dinge wat ek moes doen, vir vredesonthalwe, vir skool en kerk, vir volk en vaderland, en vir my naaste.

Dis hoekom ek dink, dis tyd om ook vir iets te vra. Aangesien ek soveel jare heeltemal niks gekry het nie, dink ek dis tyd. Ek moet sê ek is dankbaar vir ‘n opgestopte katjie, ‘n stel vurkies en ‘n PS sjokolade wat ek by my kinders kry.

Maar hierdie jaar wil ek goeters kry. En nie wêreldvrede of gemeensaamheid of oplossing van hongersnood in ver lande nie. ’n Vriendin van my het gevra vir ‘n jaarlange vakansie vir ANC Jeugliga-lede by ‘n genasionaliseerde myn in Zimbabwe. Ek dink dis skerp.

Maar moet asb nie sulke spitsvondighede van my verwag nie. Ek wil ‘n goeie ou kerslysie maak, nou wel nie met illustrasies soos my kinders s’n nie, maar ‘n behoorlike lysie met alternatiewe, net vir ingeval jy nie alles in voorraad het nie.

Ek wil ‘n diamantring hê (myne se diamant het 18 jaar terug uitgeval en ek dra nog steeds die bandjie wat ek vir myself gekoop het!). Ek wil ‘n swart aandrokkie met hoë hakskoene en lang oorbelle hê. En ‘n lyfie om daarin te pas. Ek wil ‘n vrieskas hê vol vleis wat nie daglank neem om te ontvries, ure vat om gaar te maak of vet maak nie. Ek wil ‘n ‘slow cooker’ hê wat soggens self onthou om vleis uit die vrieskas te haal en dit dan vanaand sappig met groente kan voorsit. Ek wil elke dag iets eet wat net soos sonde proe, maar nie om my heupe sal gaan sit nie, iets soos driehoek-sjokolade of trifle of swartwoudkoek of slap tjips. Ek wil ‘n armband hê wat van kleur verander soos my buie, met pienk vir romanties, rooi vir entoesiasme, geel vir vrolik, pers vir gevaarlik, blou vir weemoedig en groen vir sommer net myself. En ek wil gebruiksaanwysings daarvoor vir die res van die gesin hê, sodat hulle weet wanneer om nie met my te lol nie, wanneer om nie by my te klik of te kla nie, ensovoorts.
Gepraat van gebruiksaanwysings, kan ek asseblief een kry vir my man? Hoe ouer ek word, hoe meer dink ek dis mans wat onverstaanbaar is, nie vrouens nie. En as jy nie so een het nie, wil ek ten minste drie aande ‘n jaar (met my verjaarsdag, met my huweliksherdenking en iewers tussenin) ‘n romantiese man hê. Dis nou een wat rose bring, sjampanje en sjokolade, wat self onthou en wat my verras met enigiets, iets kleins of iets groots.

Ek wil asseblief ‘n liggeel sonhoed hê en ‘n bypassende wasige, feëtjie uitrusting sodat ek ook soos my vriendin, Kobie, kan lyk op somerdae. Ek wil ‘n botteltjie koel-pille hê wat ek kan drink vir daardie dol dae, om ook so rustig soos my vriendin, Tharina, enige krisis te kan hanteer, om te drink as ek na die kaskar- of die atletiekbyeenkoms toe gaan sodat my kinders hulle nie vir my hoef te skaam nie, of wanneer ek saam met manlief na ‘n werksfunksie toe gaan.

Ek hoop nie dis te veel gevra nie. Kyk maar wat jy kan doen, asseblief, Kersvader!

En as jy sukkel met die lysie, onthou maar, ‘n bos goudgeel rose en ‘n Toblerone sal ook die ding doen!

Groete
Hettie Golden