ASTV, kort vir Afrikaanse Satelliet TV, is ‘n Afrikaanse TV-kanaal wat deel vorm van die splinternuwe TOP TV-pakket.
Die kanaal is gemik op alles wat Afrikaanssprekendes raak en bied daagliks programme vir oud en jonk. ASTV beoog om die beskikbaarheid en toeganklikheid van Afrikaanse programme op Suid-Afrikaanse televisiekanale verder te bevorder en op so ‘n manier ‘n beduidende bydrae te lewer tot die uitlewing en groei van die Afrikaanse taal as deel van ‘n groter Suid-Afrika.
Programhoogtepunte sluit in ‘Kollig’, ‘n joernaalprogram met die immergewilde Sarahann Doherty. Die program gaan kuier orals waar Afrikaans leef en daar word weekliks met bekendes uit die skatkis van ons taal gesels. Die program raak ook sosiale kwessies aan en ondersoek dinge wat ‘n impak op mense se daaglikse lewens het.
‘DokterMy’ is ‘n lekker interaktiewe geselsprogram oor alles wat gesondheid behels. Jacques Botes beantwoord en gesels heel gemaklik oor hedendaagse gesondheidkwessies. Programbesprekings dek ‘n hele boel kwessies. Kykers kan verwag om te leer en te hoor van rook, depressie, kanker, babas en baie meer.
‘Kief’ is soos die naam sê, ‘n lekker loslitreeks vir die jeug. Daar word vertel en meer gewys oor musiek, flieks, speletjies en die witwarmste soektogte op die internet. Kykers kan lekker op Facebook en Twitter saamgesels.
En ‘n program wat reeds op almal se lippe is, Paparazzi. Tobi Jooste, Deidre en Joe Strydom is die aanbieders van hierdie lekker program waarin hulle al die nuutste “celebrity-nuus” aan die kykers bring. ‘n Program om elke week na uit te sien.
In ‘Restaurante Toe’ besoek Ghapi van die beste restaurante en gesels met sjefs oor hoe hulle kos voorberei en ook sommer wat hulle restaurant se disse so spesiaal maak.
Ander reekse sluit ook in ‘Feesvoete’, ‘n program oor feeste dwarsoor die land,’ Diere Maniere’ en ‘Kos is oppie tafel’.
ASTV is ‘n kanaal vir ons mense, oor ons mense en gesels met almal in Suid-Afrika oor die dinge wat vir ons interessant en relevant is.
TOPTV dekodeerders is tans teen ‘n spesiale tarief van R 299 beskikbaar in winkels regoor Suid-Afrika. Hierdie bedrag sluit die dekodeerder, skottel asook die installasie in. ASTV asook ‘n paar ander kanale is beskikbaar in die “Variety pakket” wat R99 per maand beloop. Besoek gerus www.astv.co.za en www.toptv.co.za vir meer informasie.
