Bielie van ‘n kompetisie

Die Bielie van die Bosveld kompetisie was verlede naweek deur Thabazimbi Gholfklub aangebied. Die wenner is Jaco Prinsloo (middel) met 145 houe van ‘n +3 voorgee. Saam met hom op die foto is Charlie Penzhorn (links) en Thabazimbi Gholfklub se klubkapteine, Louise van Graan (regs).

THABAZIMBI – Die Bielie van die Bosveld, wat verlede Saterdag te Thabazimbi Gholfbaan aangebied was, het spelers van sover as Western Area, Randfontein en Pretoria getrek.

Die kompetisie was uiters professioneel aangebied en was ‘n besondere ervaring. Groot dank aan die Bielie Komitee vir die puik reëlings. Die hoofborg was die Pro Shop. Pick ’n Pay, Fuel Zone en Cillion Trading het ook bydraes gelewer. Die heerlike kos is deur Chappies en Evelyn Behrens voorberei. Die Pro Shop het ook die twee dae ‘n groot voorraad goedere beskikbaar gehad en ‘n paar lede het groot winskopies raakgeloop. Selfs nie die hitte en wind het die spelers verhoed om goeie gholf oor die twee dae te speel nie, en almal was vol lof vir die puik toestand van die baan. Alle eer aan Eddie Williams en Johan Barnard daarvoor.

Jaco Prinsloo is die 2010 se Bielie met 145 houe van ‘n +3 voorgee af. P Viljoen met 148 was tweede en Johan Smit derde met 150.  Jannie van Graan (junior) is die netto wenner met 138 en Piet Venter (143) tweede. Die wenners van die IPS kompetisie was Esme Behrens (74), F Miller (73) en Jan-Floris van der Wateren (72). Ongelukkig het daar ook ‘n baie onaangename ding plaasgevind toe Ruan Besseling van Ellisras se stel stokke voor die klubhuis gesteel is. Iemand het dit net geneem en daarmee weggestap. Ek hoop elke bal wat die skelm probeer slaan ontplof in sy bakkies. As iemand iets weet sal ons graag daarvan wil hoor.

Die res van die maand gaan ook besig wees. Saterdag 16 Oktober gaan Laerskool Koedoeskop die dag se gholf borg. Die dames gaan op Swartklip liga speel en die manne reis na Brits om ook daar liga te gaan speel. 23 Oktober is dit die “Foursomes” kampioenskap wat oor 27 putjies gespeel word. Die Kampioen van Kampioene word op Saterdag 23 Oktober gespeel.

Vollie Volschenk