Maak seker koper het genoeg kontant

Banke is steeds versigtig om lenings toe te staan – en huisverkopers behoort steeds aan te dring dat hulle agente voornemende kopers streng vooraf keur, veral ten opsigte van die nodige beskikbare fondse om ‘n deposito te betaal en die ‘verborge’ koste van eiendomsaankope te finansier.

Benewens oordragkoste sluit bykomende koste waardasiefooie, verbandregistrasiekoste, regskoste, aktekantoorfooie, ‘n deel van die grondbelasting tydens die oordragfase, aansluitingsfooie en seëlregte in.

Op ‘n gemiddelde huis met ‘n prys van sowat R850 000 sal die vereiste deposito van 10% plus bykomende koste dus sowat R132 000 beloop.

En, sê Harcourts Afrika se uitvoerende hoof, Richard Gray, oordrag kan lank sloer en die transaksie kan selfs gekelder word indien die koper nie die nodige kontant byderhand het wanneer hy die koopkontrak teken nie.

“Die omsigte benadering van banke ten opsigte van nuwe lenings en die aandrang op aansienlike deposito’s die afgelope twee jaar het meegebring dat selfs kopers wat bewus was van dié meegaande koste en daarvoor begroot het, dikwels nie genoeg kontantreserwes ten tye van die transaksie gehad het nie.

“Gevolglik is vooraf keuring al hoe meer noodsaaklik en slim verkopers maak dit ‘n voorvereiste in enige mandaat wat hulle toeken.”

Gray sê voorts dat dié diens een goeie rede is om eiendom met die hulp van ‘n agent te bemark. “’n Indiwidu wat probeer om sy eiendom privaat te verkoop het gewoonlik nie die moed om ‘n voornemende koper oor sy finansiële posisie in kruisverhoor te neem nie.”

Voornemende kopers behoort terselfdertyd nie aanstoot te neem as hulle vooraf gekeur word nie aangesien dit ‘n gulde geleentheid is om uit te vind wat die algehele koopkoste gaan beloop “en, indien nodig, om hulle visier sonder verleentheid laer te stel”.

UITGEREIK DEUR HARCOURTS AFRIKA