Brand uiteindelik onder beheer

Dinsdagaand het die vlamme oor die kranse gespring en die eiendomme op die plato bedreig. Foto Pieter Heyns.

THABAZIMBI – Die verwoestende veldbrand wat Donderdag 7 Oktober in die Vaalwaterdistrik ontstaan het, is uiteindelik op Woensdag 13 Oktober onder beheer gebring. Die brand het vinnig in die rigting van Vaalwater, Alma en Thabazimbi versprei. Brandskade by Verdrag en in die Rooiberg omgewing is ook aangemeld.

Die brand is vermoedelik veroorsaak deur ‘n persoon wat sweiswerk in die veld gedoen het en die gras so aan die brand gesteek het.

Aangesien daar verskeie dreigende donderwolke was, kan aanvaar word dat weerlig ook bygedra het dat die vuur oor so ‘n groot gebied versprei het.

Die gebied is as rampgebied verklaar en hulp is ingekry van die Working on Fire (WoF) groep waarvan sowat 250 mense, wat in skofte gewerk het, op die grond probeer om die vuur te blus. Mnr Kobus Visser, bestuurder vir Gauteng en Noordwes, was in bevel van die operasie. Die lugmag se 17 Eskader in Pretoria het Maandag 11 Oktober twee Oryx-helikopters beskikbaar gestel om die vuur onder beheer te kry in die onbereikbare berggebiede. Die helikopters kan tussen 1000 en 2000 liter water op ‘n slag opneem om water oor die vlamme te gooi. Gelukkig was daar ‘n paar damme en swembaddens wat as reservoirs kon dien.

Brandweerspanne van Kumba Thabazimbi en Anglo Amandelbult en Swartklip asook die Thabazimbi Munisipaliteit het daagliks oor ‘n brandlyn van meer as 80km geswoeg om die brand te blus en onder beheer te kry.

Teen Dinsdag 12 Oktober is ‘n totaal van 90 000 hektaar verbrand. Die vlamme het Dinsdagaand oor die kranse in Marakele Nasionale Park gekom en die berg aan die Suidelike kant aan die brand gesteek. Die park het erg deurgeloop met sowat 32% van sy weiding wat vernietig is.

Heelparty van die plase in die voetheuwels van die Kransberge het ook heeltemal uitgebrand. Sover was daar nog geen bevestiging van skade aan geboue en verliese onder wild en vee is ontvang nie. Omvang van die verlies aan weiding asook die totale skade aan geboue en die infrastruktuur is nog nie bepaal nie maar daar kan verwag word dat dit etlike miljoene rande kan beloop.

Me Natasha de Kock van Working on Fire, Media woordvoerder, het bevestig dat die brand onder beheer is en dat hulle spanne Donderdagoggend 13 Oktober teruggekeer het na hulle verskillende basisse toe. Sy het versoek dat grondeienaars nie verdere voorbrandingstroke moet maak nie.

Mnr Alwyn Kruger, Limpopo se Provinsiale Koördineerder van WOF, het die gemeenskap van Thabazimbi bedank vir hulle gasvryheid en hulp met die brand. Bertie Joubert eiendomme het ook van die geleentheid gebruik gemaak om namens die beheerliggaam en inwoners van Khaya Kwa Marakele, sy dank aan die Thabazimbi Munisipaliteit en al die brandspanne en publiek van die omgewing wat gehelp het om verlede naweek die vure in die omgewing te blus, oor te dra. Deur die groot spanpoging is daar verseker dat verskeie huise nie afgebrand het nie en baie diere se lewens is gespaar.

‘n Groot woord van dank word uitgespreek teenoor Rona Potgieter van die Plaaskombuis wat moeite gedoen het om te verseker dat die brandspanne gereeld van water en koeldrank asook ietsie om te eet voorsien is. Sy dra haar dank oor aan die besighede wat bereid was om te help met skenkings van koeldrank en eetgoed.

Marlize von Czapiewski