Ons lesers skryf – Onselfsugtige gemeenskap

Tydens die afgelope paar dae het mens net weer bewus geword van watter ongelooflike, onselfsugtige mense daar in ons gemeenskap is. Mans wat net eenvoudig alles los, hulle vuurvegters laai of hak en kom help.

Sedert Saterdag middag is hierdie gemeenskap en omgewing geruk deur hierdie ongelooflike ramp, ‘n vuur wat nou al meer as 80,000 hektaar reg rondom die Kransberge afgebrand het. Daar is oral staaltjies van hierdie helde wat net eenvoudig oral ingespring het en dae en nagte deur vuur geveg het op ander mense se plase, ander wat telefone warm gebel het om ondersteuning te reël en ook ander wat hulle voer aangebied het en selfs aangery het.

Ek wil nie name noem nie, want eerstens sal daar sekerlik ander wees in ander area’s wat ek nie eers van weet nie en tweedens, hulle weet wie hulle almal is. Dan is daar die Helpende Hand van Bo wat alles so ongelooflik bestuur dat helikopters en helpers betyds kom waar hulle moet wees om te sorg dat dit wat essensieel is, huise, beeste, water tenks, pype, ens. behoue kon bly.

Dankie aan almal en bly asseblief help waar gehelp kan word! Die veld het weggebrand en die diere wat dit oorleef het, kry bitter swaar.

Johan van Rooy