Ons lesers skryf – Hulp met brand

Hoe sal ek begin? Soos – Hoe sê ‘n mens dankie? Wel, dis my voorreg om die mense van Thabazimbi uit die diepste wese van my hart te bedank vir dit wat hulle vir my gedoen het op Sondag 10 Oktober 2010 met die brand op Kwaggasvlakte. President Zuma het dit so gestel op die nasionale TV: Die 10e van die 10e maand 2010 sal ons altyd as kosbaar bybly.

Dit was in ‘n ander sin vir ons as gesin ook ‘n besondere dag en dit sal ons altyd bybly.

Graag wil ons dr Louis Greeff van MediVet bedank, in woorde wat my totaal ontgaan. Louis, baie opregte dank maar jý was eerste om te help. Ek wil graag vir die mense van Thabazimbi sê, mense soos Louis en Mariëtte het ons as gemeenskap  waarlike mense juwele in onse midde.

Barrie du Plessis, hoof van die Brandspan in Thabazimbi, baie eerlike dank aan jou en jou mense. Barrie, jy het ons as gesin kalm gehou – en die dinge laat lóóp soos wat jou kennis en ondervinding jou geleer het hóé om dinge te doen.

Freddie Nel, Francois en sy mense met helikopters wat van bo-af baklei het teen die verwoestende vure-hel, die Coetzees, die Du Plessis’, dié kos vir die brandweer- en die ambulanspersoneel. Heng, mense, ek kán nie name noem nie. Daar was waarlik net té veel mense wat net aangedoen het, manne, vroue en kinders het ingespring om die woedende vuur te bestry.

Manne met groot vuurvegters en 4×4 Cruisers het ingespring. Bernadine wat koeldrank – en baie water – gebring het. Dankie Bernadine, dit was ‘n lafenis wat waardeer is. Baie, baie dankie.

Eerstens my moeder, dankie vir Ma se hulp. Die werkers op die plaas,  ek is julle ‘n groot dank verskuldig. Ek en my kinders loof en eer julle.

Bowenal egter dank ons die Vader wat alles beskik  en alles so mooi laat verloop het sonder lewensverlies… Dank Vader dat U ons lewens én die van die diere gespaar het.

Nela Roux – Kwaggasvlakte Thabazimbi