Voertuig gesteel, gevind binne 4 ure

THABAZIMBI – Inwoners van Thabazimbi, me Mareli Erasmus en haar eggenoot Kobus, het omstreeks 19:30 op Donderdagaand, 23 September hul tuiste verlaat om by vriende te gaan kuier.

Met hul terugkoms teen 21:13 is hul Ford Tracer uit die erf gesteel. Me Erasmus het die SAPD geskakel, waarna die konstabels onmiddellik gereageer het. Sy het ook na Thaba Alarms se kantoor gegaan, waar sy werksaam is, en met die hulp van mnre. Gerrie Grobler en Gys van der Walt, eienaar van Thaba Alarms, patrollies ontbied. Volgens me Erasmus was die diewe goed voorbereid en het vervalsde nommerplate gehad vir ‘n Ford Tracer met net die kleur wat verskil het.

Die SAPD van Assen het die Ford Tracer by ‘n blokkade afgetrek. Die konstabels het onraad vermoed nadat die Ford met behulp van die sitplekgordels deur ‘n Uno gesleep is. Later is vasgestel dat die Ford Tracer sonder brandstof gaan staan het. Volgens me Erasmus is die aansluiter, voordeurslotte, rooster, band en sitplekgordels beskadig, maar is sy dankbaar vir die polisie en Thaba Alarms se flinke optrede wat gelei het tot die arrestasie van een verdagte en die terugvind van haar voertuig. Die saak is uitgestel tot 15 Oktober 2010.