Tot siens aan tant Ralie

Tannie Ralie Cilliers is op 17 Julie vanjaar in die Tambotie Bejaardesorg Sentrum oorlede.

THABAZIMBI – Tannie Ralie Cilliers, haar lewe lank ‘n inwoner van die Thabazimbi-distrik, is op 81-jarige leeftyd in die Tambotie Bejaardesorg Sentrum oorlede op 17 Julie.

Ralie is op die plaas Van Wykskraal in Makoppa gebore as ‘n dogter Swanepoel en het selfs tot lank na haar troue nog daar gewoon en vier kinders daar grootgemaak. In 1969 het die gesin van Van Wykskraal af verhuis na die Spitskop plotte by Thabazimbi.

Ralie was al die jare ‘n huisvrou en kleremaakster vir haar kinders en familie. Sy het sewe trourokke ontwerp en gemaak.

Later jare het Ralie vir 15 jaar in Bosveld-Oord gewoon. Haar man, Japie Cilliers, was betrokke by die bou van Bosveld-Oord.

Die laaste 5 maande van haar lewe het tant Ralie in die Tambotie Bejaardesorg Sentrum gewoon. Sy was meestal bedlêend na ‘n heup-operasie.

Tant Ralie laat vier kinders, Rachel Miller, Japie Cilliers, Johann Cilliers en Christien Geyer agter, asook sewe kleinkinders, twee agterkleindogters en haar suster, Lenie Harmse.