Sesjarige brand by asgat op plaas

So lyk HJ se gesig kort nadat die verbande verwyder is.

MAKOPPA – Die 6-jarige HJ van Rensburg van die plaas Staankraal in Makoppa het eerstegraadse brandwonde opgedoen toe hy ‘n vuurhoutjie getrek het terwyl sy ma besig was om ‘n asgat te brand.

Volgens HJ se ma, Zanie was sy van plan om die asgat aan die brand te steek, en HJ was by haar. Daar was drie dinge wat moontlik ‘n rol gespeel het in die ongeluk, sê sy.

Sy het die werkers vir diesel gevra, maar die bottel wat vir haar gegee was het petrol bevat en sy het dit te laat besef, sê Zanie. Petrol is baie meer ontvlambaar as diesel. Boonop het daar ‘n ligte windjie gewaai en daar was dooie gras naby die rand van die asgat van waar hulle gewerk het.

Toe sy vir ‘n oomblik wegdraai van die asgat, het HJ die vuurhoutjie getrek en die droë gras  het as’t ware in sy gesig ontvlam.

Zanie het groot geskrik en dadelik HJ se klere verwyder en koue lappe en water op die gebrande dele gesit. Veral sy gesig, hare, wimpers en hand het gebrand. Aanvanklik het sy nie gedink dis so erg nie, maar het HJ nogtans dadelik dokter toe geneem. Op pad Thabazimbi toe het stukke van HJ se gebrande vel sommer begin afval, wat haar laat besef het hoe ernstig die brandwonde was.

Genadiglik, vertel Zanie, was HJ se brandwonde redelik oppervlakkig en het hy net eerstegraadse brandwonde opgedoen. HJ moes egter in die dae daarna twee maal narkose ontvang sodat die dooie velle afgeskraap kon word. Met goeie mediese behandeling het hy darem redelik gou herstel.

Sy het egter versoek dat HJ se verhaal vertel word sodat dit as waarskuwing vir mense kan dien.

Volgens paramedikus, Henk Havenga, moet met uiterse omsigtigheid met ‘n brandpasiënt te werk gegaan word. Alle los klere kan van ‘n gebrande pasiënt, verwyder word, behalwe dié wat aan die pasiënt vasgebrand het.

Brandwonde moet met steriele gaas bedek word en dan koel gehou word met koue lopende water. ‘n Dun spons wat met ‘n tipe gel bedek is, bekend as “burn shield”,  werk ook goed. Mense moet net nie allerhande salwe op die brandwonde sit nie, sê Havenga. Verbande kan oor die gaas aangewend word, maar moet deurlopend natgehou word.

Dit is ook belangrik om die pasiënt vir skok te monitor en nie dadelik iets te ete of drinke te gee nie. Die pasiënt moet so gou moontlik mediese behandeling ontvang.

Havenga waarsku ook dat komplikasies veroorsaak kan word wanneer rook ingeasem word, wanneer brandwonde meer as 30% van die liggaamsoppervlak beslaan en wanneer ander besering soos frakture bestaan. Chemikaliese en elektriese brandwonde vereis ook spesifieke behandeling en die mediese geskiedenis van die pasiënt is baie belangrik.

Veral met kleiner kinders in die huis moet goeie voorsorgmaatreëls getref word. Hy waarsku, onder andere, teen lang elektriese koorde, oop muurproppe, warm water wat eerste in die bad gegooi word en potte en panne se handvatsels wat na buite gedraai is. Hy stel ook voor dat huisvrouens en nuwe mammas noodhulpopleiding ondergaan.

Hennie Pauw