General

Hartoperasie vir klein Louis

THABAZIMBI – Klein Louis Pretorius van Thabazimbi, wat in Oktober 2 jaar oud sal wees, moet voor die einde van die jaar ‘n hartoperasie ondergaan wat sal help om sy bloedsomloop te verbeter en meer suurstof aan sy liggaamselle, organe en brein te verskaf.

Louis, een van ‘n tweeling, is in Oktober 2008 gebore, op 34 weke. Sy geboortegewig was ‘n skrale 1,8 kg.  Hy het kort na geboorte blou geword en is van Thabazimbi na Bela-Bela Hospitaal oorgeplaas en later na die Pretoria Akademiese Hospitaal se Pediatriese Kardiologie Eenheid.

Hy is gediagnoseer met ‘n ernstige aangebore sianotiese hartdefek, genaamd trikuspidale klep-atresie. Dit beteken dat die een klep aan die regterkant van sy hart glad nie ontwikkel het en die bloed nie deur die regterkant van sy hart na sy longe toe kan vloei nie. Dit veroorsaak ‘n suurstoftekort in die liggaam, wat verduidelik waarom hy blou word. Boonop is sy regter ventrikel (onderste kamer) onderontwikkel en klein.

Volgens dr Lindy Mitchell van die Pretoria Akademiese Hospitaal het die spesifieke hartletsel drie operasies oor tyd nodig om die hart se werking te verbeter.

Op sy geboortegewig van 1,8 kg was hy aanvanklik te klein vir ‘n operasie en is hy aan die lewe gehou met spesiale medisynes totdat hy meer as 2,5 kg geweeg het. Op twee maande het Louis sy eerste “shunt” operasie ondergaan. Dit het sy liggaam in staat gestel om meer bloed by sy longe uit te bring.  Dit het goed gewerk en hy is daarna huis toe gestuur, maar moes gereeld vir opvolgondersoeke gaan.

Dis nou amper twee jaar later en Louis se hart verskaf tans maar 60% van totale benodigde suurstof aan die liggaam. Hierdie toestand versleg byna daagliks. Sy handjies word al weer blou en dit is nou dringend noodsaaklik dat die tweede operasie gedoen word.

Louis het die “shunt” wat tydens die eerste operasie ingeplaas is, ontgroei en twee nuwes moet ingesit word, een tussen die long en hart en een om die aar na die brein oop te hou.

Professor Rob Kingsley van die Sunninghill Hospitaal is die enigste een wat die operasie kan uitvoer en het ingestem om dit gratis te doen, maar die hospitaalonkostes sal waarskynlik ongeveer R350 000 beloop. Louis se ouers, Louise en Nicey (Richard), het nie ‘n mediese fonds nie.

Die versoek vir hulp vir Louis se operasie kom van die welwillendheidsorganisasie Legae la Bona en alle finansiële bydraes sal deur hulle hanteer word. Daar is kontak gemaak met die organisasie, Walter Sisulu Paediatric Cardia Centre for Africa, wat ook fondsinsamelings doen vir gevalle soos dié van Louis. Dis tans nog onseker of hierdie organisasie Louis se operasie sal help befonds.

Enigeen wat bereid is om ‘n bydrae te maak, kan dit doen deur geld te deponeer in die bankrekening van Legae La Bona, ABSA Thabazimbi, rekeningnommer 4072848006. Die verwysing is Louis Pretorius. Vir navrae, skakel gerus vir Rika de Beer by Legae La Bona by 083 232 8008. Kwitansies word verskaf vir bydraes.

Hennie Pauw