Gekloonde kaart lei tot groot verliese

THABAZIMBI – ‘n Inwoner van Thabazimbi, Louwtjie Louw, wie se bankkaart waarskynlik “gekloon” is, het soveel as R43 300 verloor met onwettige transaksies vroeër vanjaar.

Volgens Louw het hy die eerste keer begin onraad vermoed toe sy versekeringsmaatskappy hom in Maart skakel en sê dat die aftrekorder vir sy versekering nie deurgegaan het nie. Kort daarna is hy in kennis gestel dat sy motorpaaiement agterstallig is en het hy probleme gehad om kontant te onttrek.

Hy kon dit glad nie verstaan nie, veral aangesien hy in Desember buiten sy salaris, ‘n vakansiebonus en aansporingsbonus ontvang het. Hy het ‘n bankstaat getrek en opgelet dat hy reeds meer as R1000 se boetes van hom verhaal word vir aftrekorders wat nie deurgegaan het nie teen R115 per mislukte poging.

Na die toestand sowat drie tot vier maande voortgeduur het en Louwtjie behoorlik ondersoek begin instel het, het hy besef dat ongeveer R43 400 se onwettige transaksies op sy rekening plaasgevind het. Al die transaksies het in Thabazimbi plaasgevind. Hy het geweet dat sy bankkaart nie gesteel was nie, en dus bestaan ‘n groot moontlikheid dat die kaart gekloon is. Tans veg hy om skuld te delg en vrees dat sy motor teruggeneem sal word.

By verdere ondersoek het dit geblyk dat dit heeltemal moontlik is, met die regte toerusting, dat die inligting op ‘n kaart gedupliseer word en ‘n gekloonde kaart geskep word. Die kaarthouer moet verkieslik nooit die kaart uit sy besit laat gaan nie, soos somtyds die geval is by restaurante.

As die kaart eers gedupliseer is, benodig die skelm nog die pinnommer wat aan die kaart gekoppel is. Dit word dikwels verkry wanneer iemand “hulp” verleen aan ‘n kliënt by die autoteller, veral as daar probleme by die autobank ondervind word.  Soms word probleme veroorsaak deur gleuwe in die autobank te verstop. Talle banke waarsku ook hul kliënte om pinnommers geheim te hou en die intik daarvan diskreet te doen.

Ander voorsorgmaatreëls is om gebruik te maak van die sms-bankdiens wat die kliënt dadelik in kennis stel per sms as ‘n transaksie op die rekening plaasvind. Ander maatreëls is om bankstate en banksaldo’s so gereeld moontlik na te gaan en ‘n daaglikse limiet te hê wat nie te hoog is nie.

Bankkliënte word aanbeveel om die opsies wat elke bank beskikbaar stel te ondersoek sodat hulle beskerm kan word teen moontlike bedrog soos in die geval van Louwtjie Louw. Banke se webwerwe verskaf baie opsies om risiko’s te verminder.

Een van die ander ernstige bedrogmoontlikhede waarteen bankkliënte gewaarsku word, is elektroniese bedrog. Bedrieërs stuur ‘n e-pos aan kliënte en gee voor om ‘n bankwerknemer te wees wat rekonstruksie op die kliënt se rekening doen. Daar word versoek dat die skakel na die bankrekening geopen word waartydens toegang verkry tot die inligting op die kliënt se rekenaar. Met slimpraatjies word die kliënt oortuig daarvan dat sy rekening tydelik gesluit word en dat die bankbesonderhede weer ingetik moet word en binne ‘n kort tydperk is die bedrieër in besit van al die inligting wat hy benodig.

Hierna word groot bedrae geld elektronies oorgeplaas van die naïewe kliënt se rekening na ‘n rekening in dieselfde bank waar dit onmiddellik beskikbaar sal wees en dadelik getrek deur ‘n medepligtige.

Banke gaan egter nooit op hierdie manier te werk nie en sal nie hierdie inligting per e-pos van ‘n kliënt vereis nie. Hulle waarsku kliënte ook om nooit skakels oop te maak wanneer dit deur ‘n e-pos vereis word nie en om elektroniese betalingslimiete so laag as moontlik te hou.

Hennie Pauw