Polisiemanne verdink van onwettige jag

SWARTWATER – ‘n Ondersoek is geloods teen polisiemanne gestasioneer by die Swartwater polisiebasis vir beweerde onwettige jag.

Dit volg nadat ‘n boer, Albie Pienaar, van die Maasstroom Distrik, op 2 September om 03:00 die oggend skote in die pad voor sy plaas gehoor het. Hy het ondersoek ingestel en twee bakkies, waarvan een ‘n polisie bakkie was, in die pad gewaar. Die wit Toyota bakkie het vinnig weggejaag toe Pienaar nader ry. Albie het met die insittendes van die polisie bakkie gepraat om uit te vind of hulle iets gewaar het. Hulle het na bewering geen skote gehoor nie en ook nie ‘n registrasie nommer afgeneem nie.

Albie het Willem Grobler gekontak en daar is dadelik op die nood radio kanaal met boere in die omgewing kontak gemaak. Vermoede het ontstaan dat die bakkie betrokke kon wees by onwettige jag nadat bloed op die toneel gekry is. Boere het die paaie in die Swartwater gebied begin toemaak en die polisiebakkie het laat weet dat hulle ook per radio kontak sal maak met die polisie op Swartwater om met die soektog behulpsaam te wees. Dit het later egter tot die lig gekom dat geen kontak gemaak is met Swartwater se polisie basis nie. Die polisie het na bewering geen radio kontak gehad nie en swak selfoon sein het verhoed dat hul telefonies kontak kon maak.

Boere het so spoedig die paaie toegemaak dat die vermoede bestaan het dat die bakkie nie Swartwater verlaat het nie. Die beweerde geheimsinnige gedrag van die polisie en die feit dat ‘n 9mm-staatsdoppie op die toneel gevind is het die vinger na die polisie gewys. Kontak is gemaak met Kolonel Gert Nel van Pietersburg. Hulle het onmiddellik gereageer en op die Swartwater basis toegesak. Die lede wat daar gestasioneer was is slegs ‘n week werksaam aangesien hulle op ‘n rotasiebasis werk. Die lede van die polisie wat werksaam was is onmiddellik verplaas. Dienspistole is gekonfiskeer vir ballistiese toetse en die forensiese afdeling is uitgestuur op bloedmonsters te neem en spore op die toneel te lig.

Die Veediefstal departement van Lephalale is na die toneel ontbied om die ondersoek te handhaaf. Volgens die bevelvoerder van die departement, mnr Altheus Mokale, kan hy bevestig dat die polisiemanne wel verdink word van onwettige jag in die Koedoesrand-gebied. “’n Ondersoek is hangende en niemand is gearresteer totdat die forensiese ondersoek afgehandel is en ons wel verdagtes bekend kan maak nie,” het hy vertel. Hy het egter vertel dat daar wel wild karkaste by die polisiebasis gevind is. “Ons het onder andere karkaste gekry van ‘n koedoe, twee vlakvarke en ‘n steenbok. Van die koppe het duidelike kopskote gehad.”

Mokale het verder gesê dat die boere welkom is om hom direk te skakel as hulle diefstal van hul vee of wild vermoed by 082 565 6524.

Alternatief kan hul kontak maak met die bevelvoerders van hul naaste polisiekantoor.

“Die vinnige en flinke optrede van die polisie se hoofstrukture was puik. Weereens was die boere die uitblinkers en hul paraatheid het daartoe gelei dat ons verdagtes kon identifiseer,” het Willem van Dyk van Maasstroom gesê.

Bosveld Bulletin