LEPHALALE – Die vyf vermeende wilddiewe van Venda wat twee weke gelede in Lephalale in hegtenis geneem is vir die onwettige jag van renosters op Exxaro se Ferrolands wildsplaas, is Dinsdag vrygelaat op borgtog van R10 000 elk.
Die vyf, Patricia Mukwhevho (30), Secret Cutama (29), Rhinus Makhado (28), Louis Msekwa (31) en Abram Kgalushi (33) se prokureur, Shirley Tloane, het aangevoer dat hul elkeen slegs borg van R1000 sou kon bekostig. Maar Landdros Amia Ekard het gesê die onwettige jag van beskermde spesies – renosters in hierdie geval – en die besit van ‘n onwettige vuurwapen, is ernstige oortredings en dat die hof dit in ag moet neem wanneer borg vasgestel word.
Die onwettige jag van renosters kan nie ligtelik opgeneem word nie, het Ekard gesê. Daar is hierdie jaar reeds 188 renosters onwettig geskiet en hoewel die polisie in die Lephalale omgewing reeds drie groepe aangekeer en aangekla het in die verband, was daar tot op hede nog nie een skuldig bevinding nie.
Sy het ook genoem dat die vyf, met die uitsondering van Makhado (hy het ‘n broer wat in Marapong woon) geen emosionele of maatskaplike verbintenis tot Lephalale het nie en omdat die Staat bekommerd is dat hulle sal vlug het sy beveel dat al vyf elke Vrydag by hul naaste polisiekantoor in Venda aanmeld.
Sy het dit ook duidelik gemaak dat indien enigeen van hulle versuim om op te daag vir hul verhoor, die hof onmiddellik ‘n lasbrief vir hul inhegtenisname sal uitreik.
Haar uitspraak het gevolg op twee dae se getuienis deur die ondersoekbeampte in die saak, sersant Danie Erasmus. Hy het vir die Staat, wat borg teengestaan het, getuig dat die .308 geweer wat die verdagtes gebruik het, moontlik verbind kan word met insidente in Louis Trichardt en Vivo waar renosters met dieselfde kaliber deur wilddiewe geskiet is. Die wapen is reeds weggestuur vir ballistiese toetse om vas te stel of dit met die Louis Trichardt en Vivo renosters verbind kan word.
Hy het ook getuig dat Patricia Mukwhevho aan hom vertel het dat sy en die ander vier op beide Louis Trichardt en Vivo renosters gejag het.
Verder het sersant Erasmus sy kommer uitgespreek dat die vyf bloot weer ‘n renoster sal probeer skiet om hul borggeld te verhaal indien hul op borgtog vrygelaat word. Hy het gesê renosterhorings behaal in die omgewing van R500 000 stuk op die swartmark en dat die jagters in ‘n bende soos die een voor die hof, ‘n gemiddeld van R20 000 elk per renosterhoring verdien.
Sersant Erasmus het ook aan die hof vertel dat al vyf die verdagtes tydens ondervraging gesê het hulle is werkloos. Maar hul regsverteenwoordiger het later beëdigde verklarings van elkeen voor die hof gelê, waarin hulle beweer hulle werk vir hulself.
Erasmus en sy kollegas van die Lephalale veediefstal eenheid was duidelik teleurgesteld dat borg toegestaan is. Hy sê net een van die verdagtes, Mukwhevho, het tot dusver enige samewerking met die polisie in hul ondersoek verleen terwyl een van die ander verdagtes, Louis Msekwa, se naam ook opgeduik het in die ondersoeke na twee voorvalle op Louis Trichardt en een op Vivo.
Die vyf moet weer op 1 November in die hof verskyn.
Bosveld Bulletin
