THABAZIMBI – Die Thabazimbi Landbou en Nywerheidskou gaan ‘n blink toekoms tegemoet. Dit is ook sterk op pad om die beste skou in die land te word vir die beesboer. Voorts is dit ‘n voldonge feit dat die wildsveiling wat vanjaar na ‘n afwesigheid van ‘n hele paar jaar, nog groter en beter gaan word in die toekoms.
Skoupresident Jan Trichardt het tydens ‘n “dankie sê” byeenkoms personeel en groot borge toegespreek. Dat Trichardt opgewonde is oor die toekoms was baie duidelik. In die verlede was die Thabazimbi skou vir die beesboer slegs ter voorbereiding vir die Pretoria skou. Dit blyk nie meer die geval te wees nie.
Meeste van die bees uitstallers het erge ontevredenheid met die Pretoria skou uitgespreek. Dit is dus ‘n logiese stap om aandag te skenk aan die Thabazimbi skou se grootte, kwaliteit en omvang van die skou as geheel. Inwoners van Thabazimbi kan verseker wees dat ‘n sterk, goed gemotiveerde span die skou se toekoms deeglik onder die loep geneem het. Talle uitstallers (meer as 80% het rééds weer hulle uitstalruimte vir 2011 bespreek én betaal) het hulle ingenomenheid uitgespreek met die gehalte van die skou.
Swaar nywerhede wat vanjaar die skou bygewoon het, het reeds te kenne gegee dat die Thabazimbi skou ‘n vaste datum op hulle boeke gaan word. Die wildveiling hokke gaan minstens verdubbel word met van die grootste wildboere van oor die hele land wat hulle intense belangstelling uitgespreek het.
Tobie Lombard
