Bosvelder wen Jongboer

'n Bosvelder was vanjaar wenner van die Agri SA/Toyota Jongboer van die Jaar Limpopo 2010 kompetisie wat verlede Vrydagaand te Polokwane ten einde geloop het. Hier wens Francois van den Berg (links), president van Agri Limpopo en Paul Vorster (regs) voorsitter van die beoordelaarskomitee, die wenner, Pieter Zietsman (middel) geluk.

LEPHALALE – Die Bosveld se eie Pieter Zietsman van Tom Burke, in die Lephalale-distrik, is Vrydagaand as wenner van die Agri SA/Toyota Jongboer van die Jaar 2010 vir Limpopo aangewys.

Tydens die deftige dinee by Bolivia Lodge in Polokwane het die spanning hoog geloop tussen die vier finaliste. “Die kompetisie was straf, maar ons is tevrede dat die beste kandidaat ons op nasionale vlak sal verteenwoordig,” sê Paul Vorster, voorsitter van Agri Limpopo se Jongboer-komitee. Francois van den Berg, president van Agri Limpopo, sê: “Ons is baie trots op ons jong boere en ondersteun hulle graag.”

Agri Limpopo het die prysgeld van R 10 000 geborg en bied jaarliks ‘n opleidingsdag vir jong boere aan, geborg deur BKB Afslaers.

Dit is die eerste keer dat ‘n Bosvelder die kompetisie wen. Agri Lephalale het al in die verlede drie finaliste opgelewer, naamlik wildboer, Corne du Plessis, bees- en druiweboer, Brandt Nel en saai- en beesboer, Gerhard Vos.

Zietsman is ‘n lid van Agri Lephalale. Hy boer al vier jaar lank onafgebroke in die Tom Burke omgewing waar hy eers grond gehuur het. Hy boer nou op die plase Berne en Welvaart met tabak, groente en wild. Hy is aktief betrokke by die Tabakstudiegroep en die Tom Burke boerevereniging. Behalwe boerdery, is hy betrokke by besigheidsgeleenthede en bied hierdie week ‘n Inligtingsdag vir saaiboere op sy plaas aan.

Sy vrou, Nadia, verwag hul tweede in Januarie 2011 en is vir hom ‘n steunpilaar. Hul eersteling, Tiaan, is 15 maande oud.

Zietsman is opgewonde oor boerdery, maar wil liewer niks sê oor sy kanse in die nasionale kompetisie nie.

Elana Greyling