Munisipaliteit steur hom nie aan wetgewing

THABAZIMBI  – Die Thabazimbiese Munisipaliteit steur hom nie aan nasionale wette wat bepaal hoe dorpe bestuur moet word nie.

Riglyne oor die persentasie toegelate verhogings in inkomstes, toestemming vir die verhoging van elektrisiteitstariewe deur NERSA en publieke konsultasieprosesse is van die wette wat eenvoudig geïgnoreer word.

Die raad onderskat ook die intelligensie van sy inwoners. Aan inwoners is die versekering gegee dat tariewe met 9% sou verhoog.

Erfbelastingverhogings van gemiddeld tussen 50% en 54% is nader aan die kol, luidens ‘n brief van Jan Viljoen, voorsitter van die Voorsitters Forum, aan Die Kwêvoël verlede week.

Thabazimbi se Voorsittersforum het vir die derde agtereenvolgende jaar op 30 Junie ‘n dispuut verklaar teen die Munisipaliteit. Die laaste dispuutverklaring is ten opsigte van die begroting vir 2010/11.

Volgens hierdie dokument maak die begroting voorsiening vir ‘n verhoging van inkomste van 63% ten opsigte van die vorige finansiële jaar. Daar word egter geen verklaring gegee van waar hierdie ekstra inkomste verkry sal word nie.

Dit blyk dat die tarief op erfbelasting verhoog het van R0,00436/R verlede jaar na R0,00516 vanjaar en dan op die verhoogde tarief ‘n 9% verhoging geplaas is. Die nuwe tarief is egter nooit goedgekeur nie.

Volgens die dispuutverklaring is die Munisipaliteit besig om syfers te “juggle” om mense te laat glo dat hulle slegs 9% verhoging betaal terwyl dit in der waarheid heelwat meer is.

Blykbaar vereis die wet dat die manier waarop belasting bepaal word op die rekeninge aangedui word, maar hierdie inligting verskyn nie op munisipale rekenings van Thabazimbiërs nie.

Publieke vergaderings ten opsigte van die Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (wat handel oor kapitaalontwikkelings) oftewel GOP sowel as die belastingbeleid moet gehou word. Die publiek moet ook geleentheid gegee word om insette tot die begroting te lewer.

Weinig tot geen vergaderings vir hierdie doel is gehou nie. Meer as een GOP-vergadering aan die einde van verlede jaar is gekanselleer omdat die burgemeester nie opgedaag het nie. Die begroting is wel beskikbaar gestel, maar nie vir 30 dae nie, soos duidelik deur die wet bepaal word. Dit was ook onvolledig – ‘n bladsy was uitgelaat.

Ten opsigte van nie een van hierdie prosesse is die insette van die publiek erken nie. Dit is bloot geïgnoreer.

Die kapitale begroting maak nie voorsiening vir één van Thabazimbi se dringendste probleme nie, naamlik die verbetering van watervoorsiening- en rioolverwerkingsnetwerke nie.

Die boere het ook weer eens bevestig dat hulle sal weier om belasting te betaal solank daar nie bevredigende antwoorde gegee word op eise soos die verskaffing van brandweerdienste, veiligheid op plase, onderhoud aan paaie, nie en nog ander.

Op Vrydag 20 Augustus vind ‘n noodvergadering met Limpopo se MEC van Plaaslike Regering en Behuising plaas. Die Voorsittersforum het egter gedreig dat as die uitslag van onderhandelings nie bevredigend is nie, belastingbetalers dienstegelde sal begin weerhou.

Hennie Pauw