Vleisbeesproduksie-skool vir beesboere

Weiding, produksie-eienskappe en die moderne tegnologie is die drie vernaamste hulpbronne wat ‘n beesboer het om geslaagd beesvleis te produseer wat in die behoefte van die verbruiker voldoen.

Praktiese lesings en demonstrasies gaan al dié hulpbronne saamtrek tydens die jaarlikse Vleisbeesproduksieskool wat by Aldam, die weelderige oorde by die Allemanskraaldam in die Vrystaat, van 13 tot 15 Oktober aangebied word.

Negentien van Suid-Afrika se voorste kenners asook 3 Internasionale sprekers sal ‘n reeks lesings oor voeding, dieregesondheid, teling, finansiele bestuur asook ‘n hele aantal praktiese sessies aanbied.

Produksie eienskappe sal ook tydens praktiese sessie onder die loep kom wanneer kenners in die beeskraal sal wys hoe beeste geselekteer word vir sigbare eienskappe. Hierin sal dr. Roger Hunsley, wat internasionaal as een van die groot beeskenners bekend is, wys hoe ‘n mens inderdaad onder die dier se vel kan kyk wat die karkaseienskappe is.

Die osse wat op die hoef geevalueer is, sal geslag en die karkasse sal tydens die skool ten aanskoue van almal geëvalueer word. Die behoeftes van voerkrale sal ook uitgespel word.

Die moderne tegnologie en die toepassing daarvan, soos teelwaardes en DNS-tiperings, sal ook behandel word en dr. John Pollak, hoof van vleisproduksie van die Amerikaanse departement van landbou, sal verduidelik hoe prestasie en funksionele doeltreffendheid saam gebruik kan word om aan die behoeftes van die vleismark van die toekoms te voldoen.

Vir die beginnerboer is daar verskeie praktiese sessies oor basiese praktyke soos hoe om diere te onthoring en te brand. Insiggewende lesings oor dieregesondheid, voeding en die jongste ontwikkeling ten opsigte van kunsmatige inseminasie en embrio oorplasing word ook aangebied.

En om dit alles saam te vat, gaan die bekende sakeman en beesteler, mnr. John Devonport, boere wys hoe om ‘n sakeplan op te stel om hul doelwitte sinvol na te jaag.

Boere wat ernstig is om oor 20 en 30 jaar nog winsgewend in die bedryf te staan, kan die skool nie misloop nie.

Navrae kan gerig word aan en besprekings gedoen word by: Charmaine Alberts 051 8211783 of Lizette Vermaak 082 41 22868

Die program en inskrywingsvorms is ook beskikbaar op die webwerwe: www.stockmanschool.co.za of www.lrf.co.za.