THABAZIMBI – Brande ontstaan en versprei dikwels waar mense nie kennis dra van wette en hul eie verantwoordelikhede ten opsigte van hierdie kwessie nie. Probleme soos hierdie is bespreek tydens die Thabazimbi Brandbeskermingsvereniging se jaarvergadering vroeër in Augustus.
Probleme ontstaan gereeld wanneer vure oor grense heen van verskillende areas soos trustgronde of woongebiede, en selfs oor nasionale en provinsiale grense heen, na plase versprei.
In die verlede het daar gereeld vure ontstaan in die Bakgatla-gemeenskap wat dan oorgewaai het na nabygeleë plase, waar groot skade aangerig is. In ‘n onlangse brand het inwoners van dié gemeenskap ook help vure bestry, ‘n definitiewe verbetering op soortgelyke voorvalle in die verlede. Die toerusting wat deur die Munisipaliteit aan hul voorsien is vir hierdie doel was egter nie beskikbaar nie.
Daar word ook gereeld vure gestig in bosse agter Regorogile wat dan oorwaai na naburige plase. Inwoners sê hulle lewe gedurig in vrees dat hierdie vure in wegholveldbrande sal ontaard.
Een moedelose TFPA (Thabazimbi Fire Protection Association)-lid wou weet wat gedoen moet word indien mense gesien word om vuur te maak tydens die vuurverbod-periode en nie gehoor gee aan instruksies om nie veld te brand nie.
Vanjaar het die verbod op 31 Julie in werking getree en eindig dit aan die einde van Oktober of na die eerste goeie reënbui van sowat 25mm.
Verskeie raad is aan die hand gedoen, maar dit blyk dat opvoeding en bewusmaking ‘n voortdurende proses sal wees. Johnny Motaung, Thabazimbi se FPO (Fire Protection Officer) het voorgestel dat bewusmakingsveldtogte van stapel gestuur moet word.
‘n Ander voorstel was dat mense wat nie wil hoor nie, moet voel. Daarvoor moet seker gemaak word dat suksesvolle vervolgings geskied waar onwettige brande ontstaan. Die eerste van sulke sake in die Thabazimbi-omgewing word gehoor in September in die hof in Rooiberg. ‘n Siviele saak tussen ‘n huiseienaar en die persoon wat verantwoordelik was vir die 20 000ha brand in die Elandsberg Natuurreservaat in September verlede jaar sal in die hof verhoor word.
Die netwerk tussen verskillende staatsdepartemente en brandbeskermingsverenigings bly belangrik. Verteenwoordigers van die Polisie, Landbou, Paaie en Vervoer, Bosbou en Waterwese en Arbeid word genooi om die brandbeskermingsvereniging se komiteevergaderings een maal per maand by te woon.
Thabazimbi se brandbeskermingsvereniging het goeie groei getoon die afgelope 3 jaar sedert sy ontstaan. Die 52 lede in 2008 het gegroei tot 265 in 2010. Lidmaatskap is gratis.
‘n Kaart, wat die streek in sektore verdeel, is ook die afgelope jaar voltooi. Elke sektor het ‘n satellietleier wat help met inspeksies, raad en kommunikasieverspreiding.
Hennie Pauw
