Geen skool vir meeste Thaba leerders Dinsdag

THABAZIMBI – Publieke skole in Thabazimbi se onderwysers het Dinsdag gestaak as deel van ‘n landwye staking om hul misnoeë te kenne te gee oor, onder andere, salarisverhogings deur die Onderwysdepartement. Onderwysers verloor ‘n dag se salaris vanweë die staking.
Privaatskole soos die Bosveld Akademie en Thabazimbi Christian School het soos gewoonlik voortgegaan op Dinsdag. Sommige van dié leerders het egter ook nie skool bygewoon nie, vermoedelik as gevolg van vervoerprobleme.

Die onderwysers wat aan unies soos SAOU (SA Onderwysers Unie), PEU (Professional Educational Union) en SADTU (SA Democratic Teachers’ Union) behoort, het almal gestaak.

By sommige van die skole het daar wel leerders opgedaag, soos Ysterberg Primary en Mabogopedi Secondary School. By Mabogopedi het Graad 12-leerders met selfstudie voortgegaan.

By Hoërskool Frikkie Meyer het beheerraadonderwysers nie gestaak nie en sommige onderwysers was wel by die skool waar met voorbereiding en administratiewe werk voortgegaan is. Daar is ook gepoog om leerders, veral Gr 12’s, nie werk te laat verloor nie deur huiswerk te gee oor die verlore dag se werk.

Leerders van Laerskool Thabazimbi is per omsendbrief van die Beheerliggaam, sowel as per sms meegedeel dat die onderwysers nie by die skool sou wees nie. Die versekering is ook gegee dat onderwysers die verlore dag se skoolwerk sou inhaal.

Ook ouers van Hoërskool Frikkie Meyer leerders is per omsendbrief in kennis gestel van die staking. In die omsendbrief ondersteun die Beheerraad die McKinsey verslag van 2007 se uitspraak dat ‘n onderwysstelsel net so goed as sy beste onderwysers kan wees. Dit lui verder dat onderwysers dus erkenning moet kry vir hul goeie werk en dat bekwame individue na die beroep gelok moet word. Slegte salarispakette kan dit nie doen nie. Daarom is die staking deur dié skool se beheerraad ondersteun.

Daar kon tot dusver tot geen vergelyk kom (tussen die staat en die unies) oor  salarisverhogings nie. Die unies eis 8,6% terwyl die staat 6,5% aanbied.

Volgens ‘n omsendbrief deur die Beheerraad van Laerskool Thabazimbi beweer die staat dat dit ‘n verhoging van 8,5% aanbied, maar dit sluit die onderwysers se jaarlikse salarisprogressie van 1% in.

Ander klagtes van onderwysers handel oor ‘n behuisingtoelaag van slegs R500 per maand per onderwyser. Die bedrag word nou deur die staat verhoog na R620 (of ná onlangse onderhandeling na R630), maar vakbonde vra R1 000. Waar beide ‘n getroude paar beide onderwysers is, kry slegs een van hulle die subsidie.

Daar is ook ongelukkigheid oor die mediese fondssubsidie. Alle onderwysers word sedert 2006 gedwing om aan GEMS mediese fonds te behoort. Diegene wie aan ander mediese fondse behoort se subsidie is nog nooit sedert 2006 aangepas nie.

Skole het soos normaal voortgegaan op Woensdag.

Hennie Pauw