Feestelike atmosfeer lok duisende Karnaval-gangers

Nagenoeg 10 000 karnaval-gangers het hierdie jaar die Apiesdoring bygewoon. Daar is hierdie jaar wyd en suid bemark en toeriste het van so ver as Pretoria gekom vir die feestelike dag.

THABAZIMBI – Die jaarlikse Apiesdoring Karnaval wat deur die Hervormde Kerk Vliegepoort aangebied is, het verlede Saterdag 7 Augustus, na beraming sowat 10 000 karnaval-gangers gelok.

Volgens ds Hennie van der Linde, word die groot sukses van die karnaval toegeskryf aan die spanpoging van die gemeente en die goeie gesindheid van die gemeenskap en toeriste. Die massas bees- en wildsvleis wat so te sê spotgoedkoop verhandel het en die plaasvars gebak asook delikatesse soos pofadder en skilpadjies het gesorg dat die stalletjies gedurig rye kopers gehad het. Vir die jongspan was daar ‘n hele rits aksies en kompetisies om hul besig te hou, onder andere boomklip, kettie- en boogskiet. Die gaskunstenaar en hoogtepunt van die vermaak was die Meisie van Suidwes, Juanita du Plessis met ‘n dubbel-dosis optrede om 11:00 en weer na 13:00 gevolg deur Jammies Jamneck se skreeu-snaakse vertoning. Ook die veiling van 30 uitgesoekte items het die kerkfonds versterk en is daar voorsiening gemaak vir ‘n afdeling waarin slegs kinders van 2-16 jaar kon bie, mits hul ouers byderhand was. Die gemeente bedank ieder en elk vir hul teenwoordigheid en sien reeds uit na Apiesdoring Karnaval 2011.