ROOIBERG – Die geskatte bedrag tussen R20 en R25 miljoen se munispale fondse wat bestee is om water aan inwoners van Rooiberg te verskaf, het tot op hede nog nie ‘n druppel water opgelewer nie.
Twee van die boorgate in Rooiberg wat water aan inwoners verskaf het, funksioneer nie meer nie en volgens ‘n inwoner met ‘n boorgat het die watertafel die afgelope ruk met sowat 40m gedaal, wat nie aangevul is deur die reënval nie, ten spyte daarvan dat goeie reën die afgelope seisoen geval het.
Sowat twee maande gelede het die pomp by die boorgat van Jan Wallis, wat water aan die dorp voorsien het, uitgebrand. Die pype en pomp is halfpad uitgetrek, maar toe net daar laat staan. Water word nou gepomp van die boorgat op Miguel Ferreira se eiendom.
Die watertafel het egter aansienlik gedaal die afgelope seisoen, meen inwoners, waarskynlik ook omdat daar gedurig gepomp is om in Rooiberg se groeiende behoefte te voldoen.
Die groot vraag bly egter waarom die Sandrivierpoortstelsel nog nie in werking gestel is nie, aangesien die bouwerk aan die pyplyn reeds amper 2 jaar voltooi is. Ongerymdhede oor die boorgat, pomp, pypleiding en reservoir wat Rooiberg van water moes voorsien doen al lank reeds die rondte. Daar is ook sprake van fondse wat verdwyn het.
Volgens Philip Nel, voorsitter van Rooiberg Huiseienaarsvereniging, het die toetsing tydens die eerste fase van die watervoorsieningsprojek, vanaf die boorgat tot by die eerste reservoir, goed verloop.
Daar bestaan egter vermoedens dat die sterk pomp, wat vir die oefenlopie gebruik is, vervang is met ‘n swakker een aangesien daaropvolgende toetse nie die reservoir vol kon pomp nie.
Die groot probleem het egter ontstaan tydens die tweede fase van die projek, vanaf die reservoir halfpad tussen die boorgat en die dorp. Soos met die eerste fase, is die spesifikasie op hierdie pype is verander en 150mm pype, in plaas van 300mm-pype, geïnstalleer wat die volume van die water nie met die helfte nie, maar met ‘n driekwart verminder het.
Die water, wat veronderstel was om vry te vloei na die reservoir in Rooiberg, het halfpad heeltemal stil gaan staan – die wrywing in die pype was te veel, die gevolg van die dunner pype.
Die vryvloei-konsep sou buitendien nooit kon werk nie, al was die pype die regte die grootte, meen kenners. Dit laat ernstige vrae ontstaan oor die gehalte van die werk van die raadgewende ingenieurs op die pyplyn.
Maar dit was nie al nie: die skoonmaakkleppe is of nie geïnstalleer nie, of verkeerd geplaas, die pype in die eerste fase wat water kon hanteer het erg gelek en moes vasgemaak word, die mangate is voltooi nie en terugvloeikleppe (non-return valves) was afwesig.
Tydens ‘n onderhoud met Danie Stoltz van die Munisipaliteit het dit geblyk dat toetse gewys het dat, nadat ‘n nuwe pomp geïnstalleer is by die boorgat, en laste behoorlik vasgemaak is daar wel sowat 31 500 liter/uur uit die gat gelewer sal kan word, as ‘n booster pomp nader aan Rooiberg geïngestalleer word .
Dit blyk egter dat lekplekke nader aan Rooiberg verantwoordelik is vir die verdwyning van die water.
‘n Nuwe raadgewende ingenieur (Malose Lamola van Gauteng) en kontrakteur (JH Konstruksie van Bela Bela) is aangestel. Verbeterings aan die pyplyn is tans aan die gang en behoort binne twee maande voltooi te wees.
Daar is besluit om die reservoir op die berg, wat tydens die eerste fase gebou is (en volgens gerugte te klein gebou is en lelik lek), uit te skakel en ‘n boosterpomp sowat 7,5km van Rooiberg te installeer. Hier sal dan ook tien 10 000 liter watertenks opgerig word.
DH Konstruksie is, onder meer, verantwoordelik vir die installering van die tenks, boosterpomp, 28 mangate op die pyplyn, die opvulling van meer as 6km pyplynsloot, en die installering van kleppe.
Stoltz erken egter dat hierdie maatreëls nie noodwendig aan die langtermynbehoeftes gaan voldoen nie, omdat daar wesenlik probleme was met die pype.
Tydens toetsing het die pype hewig geskud en selfs losgeruk, as gevolg van die feit dat die pype nie die drukking kon weerstaan nie. Dit is deel van die probleem dat pype met verkeerde deursnee destyds geïnstalleer is.
Vele vrae bly nog onbeantwoord, sê Nel van die Rooiberg Huiseienaarsvereniging. Kan iemand nie verantwoordelik gehou word vir vrugtelose uitgawes nie? Wie het die opdrag gegee om die spesifikasies van, onder andere, die pype, te verander en wie het goedgekeuring gegee vir onvoltooide werk. Ingenieursprojekte vereis die indiening van vorderings-, wysigings-, inspeksie- en voltooiingsverslae. Hiersonder behoort geen betalings goedgekeur te wees nie. Waar is sulke verslae en deur wie is dit onderteken, vra Nel.
Pogings om die vorige raadgewende ingenieurs, Molopo Consultants, op te spoor deur verskeie partye, was vrugteloos. Beide die kontrakteurs wat vir die eerste en tweede fase van die projek aangestel is, onderskeidelik deur die vorige Tegniese Bestuurder, Lepiyane, en huidige Tegniese Bestuurder, Cornelius Booysen, het klaaglik misluk in die uitvoering van die tender.
Volgens Nel het hyself en ander belanghebbendes die ongerymdhede rapporteer nadat hulle destyds inspeksies ter plaatse gehou het, maar geen regstellings het plaasgevind nie.
Boonop het hy al baie kommunikasie met die Munisipale Bestuurder gehad, wat ook telkens belowe het om die verslag, sowel as die nuwe plan beskikbaar te stel. Maar dit is reeds 5 maande gelede belowe en daar is nog steeds geen reaksie nie.
En wat is daar om te wys vir die sowat R25miljoen wat reeds spandeer is vir water, vra Nel. Dis tyd dat daar terugvoer aan die gemeenskap gegee word en amptenare uitgewys word wat die verantwoordelikheid moes dra vir vrugtelose uitgawes.
