General

Vrou sterf in hospitaal van geboorte-uitputting

THABAZIMBI – ‘n Dertigjarige vrou van Thabazimbi, Magdaline Tshoko Khumalo, het Vrydagoggend 26 Februarie in die Thabazimbi Hospitaal gesterf, vermoedelik vanweë uitputting en bloedarmoede terwyl sy in kraam was.

Die verslag van die nadoodse ondersoek is egter nog nie ontvang nie.

Volgens familielede het ‘n blakend gesonde Magdaline, wat nege maande swanger was, Dinsdag 23 Februarie die kliniek besoek. Hier het sy ‘n inspuiting ontvang wat haar nie lekker laat voel het nie, eers baie warm en dan weer baie koud.

Toe hierdie toestand voortduur het die ambulans haar Donderdag opgelaai en na die hospitaal vervoer.

Volgens hospitaalpersoneel moes sy gedurende die nag kraam, maar as gevolg van uitputting en bloedarmoede kon sy nie op haar eie kraam nie. Die oornag-dokter het haar ondersoek en aanvanklik aanbeveel dat sy normaal kraam. Na ‘n tweede ondersoek het hy egter aanbeveel dat ‘n keisersnee uitgevoer word. Die pasiënt is egter oorlede voordat die operasie uitgevoer kon word.

Volgens familielede is hulle vroeg Vrydagoggend deur die polisie in kennis gestel dat Magdaline oorlede is en na die hospitaal geneem.

Die gesin het op Maandag 1 Maart ‘n onderhoud toegestaan aan die DA-leier in Limpopo, Desiree van der Walt, wat belowe het om ondersoek in te stel na die aangeleentheid.

Volgens die werkgewers van Magdaline se suster, Johina Mmalefaetshe Diboko, Martie en Paul Scruton, wil hulle graag die familie help om meer sekerheid te kry oor hoe Magdaline oorlede is. Martie het die hospitaal Vrydagoggend gebel om besonderhede oor Magdaline se dood te kry, maar as gevolg van die protesaksie van die verpleegsters, kon geen inligting verskaf word nie. Hulle het egter gevoel dat die saak nie net daar gelos behoort te word nie.

Hennie Pauw