Die Bosveld Gesinsfees gaan ‘n ware fees wees

THABAZIMBI – Veertien kunstenaars tree môre, Saterdag 6 Maart, op by die Bosveld Gesinsfees. Ieder en elk is ‘n moet sien en ‘n belewenis. Jesse Lange, musiekster van 2009 by Thaba Stereo 104.9 is beslis een van die groot lokpleisters. Die nagtegaal, Cinda de Klerk, stel dan ook haar nuwe CD bekend.

In die rigting van 10:00 begin die kunstenaars optree met Jesse Lang van Thaba Stereo 104.9 wat die dag se sang inlei. Tegelykertyd begin die boeresport en perde program. Nie minder as sewe items is vir die distrik se ruiters aangelê.

Kunstenaars wat te siene sal wees is Sekelbos Dansorkes, Jesse Lang, Cinda de Klerk, Charl van Zyl (die Gé Korsten van die Weskus), Gert Schoeman, Rudi Meiring (top 10 Idol van 2004), David J, Rainier le Roux (opwindende sanger van Thabazimbi), Hekkie de le Guerre, Dries Laas, Kobus Kloppers & Neels Ackerman, Pieter Naudé en Jerome Alden en sy perd Trigger. Dan het die kunstenaar Doppie ‘n ding of twee in sy mou wat nie gemis mag word nie.

Die Leeupoort-tak van die Boeremusiekgilde van Suid-Afrika wat Northam, Swartklip, Leeupoort, Ellisras, Vaalwater en Alma insluit, bied die groot Bosveld Gesinsdag op die skougronde aan. Om 9:00 word die hekke oopgemaak vir die publiek. Die streek se plaaslike gemeenskapsradio, Thaba Stereo 104.9FM, saai die dag direk uit vanaf die skougronde. Uitsending sal duur van 8:00 tot om ongeveer 20:00 wanneer daar teruggeskakel word na die ateljee.

Die baie gewilde potjiekos kompetisie se deelnemende spanne begin om 9:10 hulle potjies op die vuur te plaas. Die beoordelaars vir vanjaar is Marie Steenekamp (sameroepster), Deon Geber (Northam), Bakkies Eayres, Mauri Lombard en Ella van Vuuren.

Die middag is daar ‘n talentkompetisie vir oud en jonk. Toegang vir die dag se vermaak is spotgoedkoop teen slegs R20 per kop, oud en jonk. Saterdagaand is daar ‘n dans met Sekelbos in John van Deventersaal (Oop Saal). Lesers wat net die aand wil dans se toegang is R40 per kop en elk is meer dan welkom om ‘n eie mandjie verversings saam te neem.

Lede van die Boeremusiekgilde van SA kry ‘n stewige afslag op 6 Maart. Ledekaartjies moet net getoon word. Daar is heelwat plek vir stalletjies beskikbaar. In 2009 het sowat 2000 mense die potjiekos kompetisie bygewoon en vanjaar word heelwat meer mense verwag.

Die boere kan ook uitsien na ‘n allemintige vetvee veiling die oggend. Thabazimbiërs kan ook hulle los goed na die veiling bring.

Belangstellendes kan vir Pieter Bodenstein – voorsitter (082 410 1655), Paul Dreyer – vise-voorsitter (083 402 1896), Tobie Lombard – Sekretaris (078 775 3974), Tom Prinsloo (079 377 7290), Gerrie Meyer (078 887 1958) of Thaba Stereo 104.9  by 014- 7771274/014-7721111 skakel vir meer inligting.

U kan ook vanaand en moreaand asook volgende Vrydagaand inskakel op 104.9FM waar finale aankondigings gemaak sal word rakende die grootste Bosveld Gesinsdag ooit. Die program staan onder beskerming van die Boeremusiekgilde en die doel van die Bosveld Gesinsfees is om fondse in te samel vir die radiostasie. Sien julle daar!

Tobie Lombard