Sport

Skopboks se Sanel gaan oorsee

Sanel met ‘n NCP hempie saam met van die borge wat dit vir haar moontlik gemaak het om aan die UK toernooi deel te neem: die Direkteure van Northam Chrome Producers, Walter Makgeru, Gawie Vorster, Sanel en Oom Toelie Vorster.
Sanel met ‘n NCP hempie saam met van die borge wat dit vir haar moontlik gemaak het om aan die UK toernooi deel te neem: die Direkteure van Northam Chrome Producers, Walter Makgeru, Gawie Vorster, Sanel en Oom Toelie Vorster.

THABAZIMBI – Om oorsee te gaan om jou land te verteenwoordig is seker enige mens se droom. So-ook Sanel Steyl, ‘n leerling van Bosveld Akademie, en lid van Shihan Peet van Breda se skopboksklub. Sy het die geleentheid gekry om deel te neem aan die Judgementday Skopboks toernooi te Sheffield Engeland aan die einde van Junie 2009.
Tydens die kompetisie het Sanel ‘n derde plek behaal in haar gewigsafdeling en ’n brons medalje verwerf. Die kompetisie is bygewoon deur 22 lande en 800 deelnemers. Volgens Francois Steyl, Sanet se pa, was dit werklik ‘n ongelooflik ervaring om sommige van die deelnemers se spoed te sien asook die wyse waarop hulle oor die mat beweeg.
Om bogenoemde te laat realiseer kos harde oefening en veral mense wie se hart en hand oop is om finansieel te steun, veral teen ‘n ruilkoers van amper veertien tot een.
Daar was darem ook ‘n bietjie tyd om die Engelse Koningshuis te besigtig (net jammer die Koningin was uithuisig). Verder is Big Ben, die Teems rivier en The Eye gesien. Die trein en tremstelsel in Engeland was ook ‘n hoogtepunt, veral die stiptelikheid daarvan. En natuurlik is ‘n besoek ook nie volledig as jy nie in ‘n regte Engelse taxi gery het nie.
Langs hierdie weg wil die Steyl gesin graag erkenning gee aan al die borge wat bygedra het om die toer te verwerklik. Hulle is die volgende – Die direkteure van Northam Chrome Producers, Gawie Vorster, Oom Toelie Vorster en Walter wat die hoofborg was, Oom Ampie van Blue Chip Lubricants, Ray Mordt van Sesonke Hydraulics, Johan Muller van On Track, die Jordaans van Thabazimbi Onkruid en Plaag beheer, Jaco van Vuuren van Elnesco, Rudi Nel van Konstructica en Oom Basie van Wyk. Volgens die Steyls sou dit onmoontlik gewees het sonder hierdie persone, dus ‘n groot woord van dank aan hulle. Shihan Peet word ook bedank vir sy harde werk, moeite en motivering. Laastens wil die Steyl gesin ook almal se woorde gelukwense bedank, dit word opreg waardeer.
Na afloop van die Suid-Afrikaanse Skopboks Kampioenskappe in Stellenbosch in Julie, is Sanel weer ingesluit in die Nasionale Span vir 2010 vir haar gewigsafdeling. Baie geluk aan Sanel vir die mooi prestasie wat behaal is.