Thabazimbi varkgriep pasiënt op die been
Hennie Pauw
THABAZIMBI – Slegs een geval van varkgriep in Thabazimbi is bevestig en daar is geen rede vir paniek nie, verseker artse en Thabazimbi Munisipaliteit nadat Thabazimbi se eerste pasiënt verlede week met die H1N1 (oftewel varkgriep) virus gediagnoseer is.
Die pasiënt, ‘n Thabazimbiese leerkrag wat die virus waarskynlik oorsee opgetel het, was nooit gehospitaliseer nie en het slegs ligte simptome openbaar. Die pasiënt het reeds herstel.
Volgens dr Andries Buys word die ergste simptome gewoonlik in die eerste aanmelding van so ‘n virus, net soos met gewone griep, waargeneem en indien dit sou aansteek, word die simptome stelselmatig ligter. Volgens hom hoef mense met ligte simptome nie getoets te word vir die virus nie.
Die simptome van varkgriep is dieselfde as dié van gewone griep en sluit in keelseer, loopneus, hoes en koors. Die virus word slegs oorgedra wanneer iemand in noue kontak was met die persoon wat die virus dra.
Die inkubasietydperk vir die virus is ongeveer sewe dae. Dit beteken dat as iemand die virus aangesteek het, behoort simptome binne ongeveer sewe dae te manifesteer.
Varkgriep is nie ‘n aanmeldbare siekte nie, maar word as ‘n oordraagbare siekte geklassifiseer. Die Rampbestuur Eenheid van die munisipaliteit is bewus van die situasie en dit word noukeurig gemonitor. Hulle is ook gereeld in kontak met die skool waar die leerkrag werksaam is.
Thabazimbi se Disease Outbreak Response Team, wat vanjaar gestig is tydens die cholera uitbraak in die land, sal weer volgende week vergader in verband met die varkgriep-geval.
Volgens dr Buys moet iemand wat vermoed dat hulle varkgriep het, hul geneesheer spreek en versoek dat toetse daarvoor gedoen word. Toetse om die teenwoordigheid van die H1N1-virus in bloedmonsters te bepaal word nie plaaslik gedoen nie en uitslae word oor ‘n 3-dag periode beskikbaar gemaak.
Medikasie vir die behandeling is plaaslik by apteke beskikbaar. Daar is egter geen manier om voorsorg te tref teen moontlike oordraging van die virus nie, behalwe om kontak met ‘n persoon wat die virus het, te vermy, sê dr Buys.
Volgens ‘n berig in die Beeld die afgelope week is die hoë risikogroep vir varkgriep bejaardes, swanger vroue, lyers aan asma, hartsiektes, diabetes, rugmurgbeserings, breindisfunksie en epilepsie.
Ongeveer 500 mense in Suid-Afrika is reeds met die virus gediagnoseer en ‘n jong Matie-student is verlede week aan dié siekte oorlede.