Thabazimbi se tariewe 2,5 keer hoër as res van Limpopo
Hennie Pauw
THABAZIMBI – Thabazimbi se belastingtariewe is gemiddeld 2,5 keer hoër as tariewe elders in Limpopo, sê die Thabazimbi Voorsitters Forum (TVF). ‘n Dispuut jeens die 2009/10 begroting is hierdie week deur die TVF verklaar.
Volgens Jan Viljoen, voorsitter van die Voorsitters Forum, is dit tyd dat besigheid- en grondeienaars die realiteite en implikasie besef van die “goedgekeurde” begroting, en hoe dit hulle sakke gaan raak. Die nuwe tariewe tree vanaf 1 Julie in werking.
Vir ‘n besigheidsperseel van R9 miljoen sal ‘n eienaar tussen R3 500 en R4 000 per maand aan belasting opdok volgens die nuwe tariewe. ‘n Plaasboer op grond wat op R3,5 miljoen gewaardeer is, sal (as hy kwalifiseer vir ‘n 70% rabat – dit wissel van boer tot boer) sowat R225 per maand of sowat R2 700 per jaar betaal. Oor twee jaar sal die bedrag egter dubbel wees aangesien boere se belasting oor vier jaar infaseer word. Die bedrae vir beide besigheid, dorpsbewoner en boer sal jaarliks ‘n addisionele inflasie-verwante verhoging ondergaan. Die herwaardering van grond elke vier jaar hou verdere koste-implikasies in.
Hoewel die belastingtarief verlaag het van verlede jaar (van R0,0085/R na R0,00516/R), betaal boere, besighede en huiseienaars nog steeds heelwat meer as hul konkurrente in ander dorpe in die res van Limpopo. Volgens Viljoen is die belastingtariewe in Thabazimbi sowat twee en ‘n half keer hoër as in die res van Limpopo.
Boere, meen Viljoen, kry egter niks in ruil vir die belasting wat hulle betaal nie, behalwe die voorreg om die dorp te besoek. Hulle betaal egter reeds persoonlike belasting aan die regering.
Die vraag wat Viljoen, namens die Voorsitters Forum, vra is of die belasting bekostigbaar is, of dit sinvol bestuur word en of die spandering relevant is. Die munisipale begroting vir die huidige finansiële jaar maak voorsiening vir ‘n algehele verhoging van 23%.
Die verhoging is toe te skryf aan, onder andere, ‘n 44% verhoging in salarisse en lone. Raadslede kry ‘n 33% verhoging in hul toelaes en 40 ekstra persone gaan tydens hierdie finansiële jaar aangestel word.
Dit is egter geen uitgemaakte saak, sê Viljoen, dat die 40 ekstra munisipale werkers of amptenare beter dienslewering sal bewerkstellig nie. Hy vra of dit nie dalk deel uitmaak van ‘n ANC-verkiesingsbelofte om ‘n halfmiljoen nuwe werksgeleenthede te skep teen einde 2009.
Die punt bly egter dat die finansiering vir hierdie uitgawes uit die sakke van inwoners van die Thabazimbi-distrik kom. Hierdie inwoners word egter almal deur die huidige resessie getref. Daagliks verloor mense hul werk, of kan hulle minder koop met hul geld en besighede sukkel om te oorleef. Te midde van hierdie situasie het die Thabazimbiese Raad buitensporig belastings goedgekeur, wat meeste van hulle self nie betaal nie, sê Viljoen.
Daar bestaan egter goeie wetgewing, wat tans deur die Raad geïgnoreer word. Binne hierdie raamwerk is dit egter moontlik vir inwoners van die omgewing om iets aan hierdie saak te doen en moet hulle tot aksie oorgaan.
Die Thabazimbi Voorsitters Forum het hierdie week ‘n tweede dispuut teen die Thabazimbi plaaslike munisipaliteit gebring, hierdie keer ten opsigte van die 2009/10 begroting.
Die eerste dispuut is in Mei verklaar ten opsigte van die belasting op eiendomme vir die 2008/9 finansiële jaar.
Vir navrae of kommentaar kan inwoners hul verteenwoordigers skakel. Hulle kan die volgende persone kontak: Gert Snyman (TBBV) 083 295 1284, Riana Bekker (Sakekamer) 072 671 9710, Phillip Nel (Rooiberg) 083 394 0140, Butch Angley (Northam) 083 2812 263, Gys van der Walt (Sakekamer) 083 252 0368, Liezie le Roux (TBZ Ontwikkeling) 082 893 4208, Sam Mamuno (Mmebane CoC) 078 465 0526, Len Scott (Leeupoort) 083 770 1089, Gert Gouws (Kromdraai) 082 415 6762, Albert du Buys (KK Jongboere) 083 236 6097, Herman Barnard (WRSA) 082 335 6411, Bernadine Nel (TBZ Toerisme) 083 269 0434 en Jan Viljoen (TLU) 083 325 6057.