Skopboks toernooi lok groot belangstelling
THABAZIMBI – Tydens die skopbokstoernooi wat op 6 Februarie in die Bioskoopsaal aangebied is, het dit duidelik geblyk dat dié sportsoort groot aftrek kry in Thabazimbi. Sowat 300 toeskouers was teenwoordig om plaaslike vegters in aksie te sien.
Vegters van so ver as Brakpan, Johannesburg, Pretoria, Fochville, Mooinooi en Rustenburg was byeen om hul staal te wys. Gevegte oor die volle spektrum, van beginners tot Suid-Afrikaanse kampioene, was te sien.
Hoewel al die gevegte van uitstaande gehalte was, kan die geveg van die nuweling Michael van der Linde uitgesonder word. Die geveg is dan ook in sy guns beklink. Ander plaaslike deelnemers was Simeon du Toit, Dyllan Pretorius, Danya Nepgun, Johan Pieterse, Alex Hobarth, Leon Freudiger, Henko van Staden, Essias Lamprecht, Francois Buys en Awie Jordaan.
Die hoofgeveg tussen Michael Buys en JP Kruger was om die Xtreme KickBoxing Technology (XKT) – swaargewigtitel.
Buys het, op hoë vlak, oor ‘n tydperk van 8 jaar goeie opgang gemaak en staan tans as ‘n topvegter bekend. Hy het ook reeds internasionale blootstelling gehad in Griekeland teen ‘n Russiese vegter wat hom gewen het op ‘n kontroversiële dispuut.
By die afgelope toernooi in Thabazimbi het hy hom in ‘n uitmuntende geveg goed van sy taak gekwyt en sy opponent in die eerste rondte reeds op die planke gehad. Kruger was ‘n waardige teenstander, maar moes bes gee in die tweede rondte toe ‘n regterhaakhou van Buys hom finaal gestuit het.
Buys kom op 28 Februarie teen nog ‘n vegter te staan vir ‘n tweede titelveg waarna hy waarskynlik in aanmerking sal kom vir wêreldtitel-gevegte.
Die toernooi was ‘n reuse sukses ten spyte daarvan dat die plaaslike organiseerder en afrigter, Peet van Breda, in die hospitaal opgeneem is vir ‘n pofadder-byt. ‘n Gedeelte van die toernooi-wins sal vir die Immergroen-projek geskenk word.
Die Thabazimbi Skopboks-klub het sy dankbaarheid uitgespreek teenoor die organiseerders van die toernooi, die ondersteuners vir hul meelewing en ondersteuning en die borge vir hul finansiële bydrae.
Vir verdere inligting kan Peet van Breda geskakel word by 084 624 1537.