THABAZIMBI – Sestien unies, waaronder Namibië, het sake uitgespook op die Suid-Afrikaanse Meesters Jukskei-toernooi wat tot 2 Oktober in Kroonstad geduur het. Die kompetisie was baie sterk.
In die Mans A-afdeling het Noord-Kaap, Suid-Natal en Noord-Vrystaat die eerste drie plekke verower. Limpopo het tiende geëindig.
In die Mans B-afdeling was Noord-Natal eerste, Noord-Vrystaat tweede en Oostelike Provinsie derde. Limpopo het ook in hierdie afdeling tiende geëindig.
Limpopo het dertiende geëindig in die Mans C-afdeling met Noord-Vrystaat eerste, SWD tweede en Oos-Gauteng derde.
Die vrouespanne van Limpopo het ietwat beter gevaar. In die Vroue A-afdeling was Noord-Vrystaat, Oos-Gauteng en Noord-Kaap in die eerste drie plekke. Limpopo het sesde plek behaal.
In die Vroue B-afdeling het Limpopo vierde geëindig met Sentraal-Gauteng eerste, Noord-Wes tweede en Suid-Natal derde.
Die mansspanne het dus ‘n gesamentlike tiende plek behaal wat hulle die Hannes Herbst-trofee besorg het en die dames ‘n gesamentlike tweede plek wat hulle die Stoffel Prinsloo Trofee besorg het.
Gesamentlik, van al die spanne, het Limpopo vyfde geëindig en daarvoor die Boetie Pienaar Trofee verower. Die eerste drie plekke is toegeken aan Noord-Vrystaat (eerste), Oos-Gauteng (tweede) en Noord-Kaap.
Op Saterdag 1 November vind die eerste Noord Streek Kampioenskap plaas in Middelburg. Die keuring vir die spanne vind plaas op 18 Oktober in Polokwane.
