Waterberaad op Lephalale plaas klem op beplanning en benutting
Die tema van die Waterberaad op Lephalale kon weliswaar gelui het: “Water kan bemagtig of strem.”
Die onbetwisbare invloed wat water op ‘n gemeenskap, sy sosiale, ekonomiese, en algemene ontwikkeling het, is deur mnr Fred van Zyl, Nasionale Direkteur van Beplanning en Inligting van Waterdienste beklemtoon. Wanneer daar gepraat word van armoede-verligting en die totale uitwissing van armoede, speel die beskikbaarheid van kwaliteit water ‘n deurslaggewende rol. Die beplanning van die nodige infrastruktuur, volhoubare bronne, bewaring en bestuur van bestaande waterbronne, beheer en bestuur van die kwaliteit van water en voortgesette betroubare diensverskaffing, is vir Van Zyl van kardinale belang.
Die Departement van Waterwese en Bosbou wil nie net ‘n plaaslike owerheid bystaan in die beplanning van waterdienslewering nie, maar sal hulle bystaan in die uitvoering van die Aksieplan. Beloftes wat lank reeds deur politici gemaak is, moet uitgevoer word, soos byvoorbeeld die opknapping, instandhouding en uitbreiding van rioolwerke in die Lephalale gebied. Nog ‘n groot probleem is die swak kwaliteit van water in landelike gebiede. Daar word gekyk na suiwering daarvan.
Die landbou is, saam met ontwikkelende industrië in die omgewing, ‘n groot watergebruiker. Van Zyl wil boere maan om hulle water op ‘n meer effektiewe wyse te benut. Voordat nuwe water na die gebied gepomp sal word, moet gebruikers eers bewys dat hulle bestaande water effektief en spaarsamig benut.
Verskeie sprekers het die beplanning en voorsiening van genoegsame water met in agneming van reuse ontwikkelings in die gebied bespreek.
Verskillende faktore moet in ag geneem word by die beplanning van watervoorsiening, soos byvoorbeeld klimaatsverandering, volhoubaarheid, voorsiening en gebruik, beskerming van ekologie en bio-diversiteit, grondwater-gebruik en -bestuur.
Heelwat rolspelers moet in ag geneem word by ekonomiese groei, soos landbou, mynwese, industrië, vervaardiging, besigheid en handel, toerisme en rekreasie, en eiendomsontwikkeling.
Aanbevelings is as volg gemaak:
Verbintenis tot beplanning en die uitvoer daarvan met behulp van ‘n toegewyde span.
Plaaslike waterbronne moet optimaal gebruik word.
Waterbesparing en die bestuur van behoeftes is essensieel.
Bestuur van grondwater moet verbeter word.
Befondsing–prioriteite moet bepaal word.
Genoegsame beplanning van fisiese uitbreidings
bou op die bestaande basis van “assets”.
Plaaswerkers moet ingesluit word in dienslewering. (Gesprekke met kommersiële boere).
Voedselsekuriteit, werkverskaffing, gesondheid en voorkoming van siektes is as prioriteit genoem.
Die aanbeveling is dat agterstand in infrastruktuur eers opgelos word, voordat nuwe strukture gebou word. Dit sal verhoed dat mense trek en nuwe nedersettings vorm in ‘n poging om beter dienste te verkry.
Voeselsekuriteit mag nie deur die toeseggings van waterkwota’s bedreig word nie.
‘n Waterverbruikersforum moet gestig word, sodat water in die Lephalale gebied met oorleg en die nodige toekomsvisie bestuur kan word.