Hengelkompetisie by Roodekoppies

BRITS – Die Northamplats-hengelklub het die afgelope naweek hul maandelikse kompetisie aangebied wat saam met die Roodekoppies Bonanza, ‘n tweede – interklub – hengelkompetisie, plaasgevind het. Van die ongeveer 750 inskrywings, het drie van Northamplats-hengeklub kwalifiserende pryse ontvang tydens die Bonanza.
Altesaam 57 deelnemende hengelaars van Northamplats-hengelklub het deelgeneem. Die Roodekoppiesdam was 100% vol en ‘n mooi gesig om te aanskou. Die Bonanza het  vanaf Vrydagaand tot Saterdagmiddag geduur.
Van Northamplats-hengelklub se lede het al vanaf Woensdag voor die hek geslaap.
Dié entoesiastiese hengelaars was die klubvoorsitter en sy eggenoot,
Ronnie en Elise du Toit, asook Hendrik Henning, Elsie Veldman, Joey van Vuuren en Tokkie Burger. Vir hul geduld en deursettingsvermoë het hulle elk ‘n prys van
die organiseerders ontvang.
Die grootste kurper wat tydens die Roodekoppies Bonanza uitgetrek het, was dié van Gerald Burger met gewig van 0,10kg. Hy wen R1500-00 en ‘n gereedskapkas met gereedskap. Tokkie Burger het ‘n tweede plek behaal in die sak-afdeling toe hy ‘n sak van 37,45 kg uitgetrek het. Hiervoor wen hy ‘n kragopwekker en kontant. Edwin Aylward het die derde swaarste karp van 5,55 kg uitgetrek waarvoor hy elektriese gereedskap en kontant gewen het.
Ander pryse wat gewen is tydens ‘n trekking is ‘n koelsak deur Pieter Evert, ‘n naweek vir vier by ‘n lodge, ter waarde van R2500, deur Loot Pretorius, en ‘n naweek vir twee by ‘n plaaslike lodge deur Manie Veldman, oftewel Mnr Boepens.
Die Northamplats-hengelklub se kompetisie het ook Vrydag om 18:00 begin en het op Sondag 12:00 ten einde geloop. In die kompetisie het Tokkie Burger die eerste plek ingepalm in die senior-afdeling met ‘n totale sakgewig vir die naweek van 63,09kg en ‘n totaal van 31 vis. Judith Pretorius het die Dames 1ste plek behaal met ‘n totale sakgewig van 10,31kg vir die naweek en ‘n totaal van 3 vis. Die eerste plek in die Junior-afdeling is deur Ronaldo du Toit behaal met ‘n totale sakgewig van 8,2kg vir die naweek en ‘n totaal van 5 vis. Die penkoppe se eerste plek is deur Theunis Heydenrych behaal met ‘n sakgewig van 1,3kg en ‘n totaal van 1 vis.
Northamplats Hengelklub se volgende kompetisie is op 3 Maart by Konsentratordam. Dis ‘n swartbaars-kompetisie en die eerste prys is R1000 vir die seniorwenner  en R300 vir die wenner van die junior-afdeling.