“Gawe diewe” mors Kers-gees op
THABAZIMBI – Die Kersseisoen is nie meer ‘n seisoen van gee en welwillendheid nie, maar een van neem en omkrap. Dinsdagaand 4 Desember het ‘n huis in Jasmynstraat deurgeloop toe diewe by ‘n huis ingebreek het terwyl die inwoners salig onbewus deur alles geslaap het. Sedertdien bestaan die lewens van die Booysens uit jaag van een plek tot die volgende om kaarte te stop, lisensies te hernu en alles vervang wat deesdae van ons funksionerende individue maak. ‘n Rekenaar, beursies, ID-dokumente, paspoorte, geweerlisensies en selfone is gesteel. Volgens Anelle Booysen, dogter, is daar vermoedelik toegang tot die huis verkry deurdat ‘n huissleutel deur haar buitekamervenster verkry is. Die sleutels is na die tyd, ewe toegeeflik weer voor haar deur gelos. Die gesin vermoed dat bouers wat onlangs by die huis doenig was, of skoonmakers later, of tuindienste die perseel en sy inwoners se doen en late goed bestudeer het en hul modus operandi daarvolgens beplan het. Dit lyk asof die diewe presies geweet het wat hulle wil hê en waar om dit te kry, sê Anelle Booysen. Hulle moes vinnig in en uit die huis gewees het. Anelle se 3G-stokkie, wat sy daardie dag vir haar pa geleen het, is ook ewe gaaf net daar laat staan. Toegang is vermoedelik verkry vanaf ‘n erf agter die Booysens waar ‘n huis leeg staan. Nou voel Anelle dat as hulle kwansuis so gaaf is, hoekom kon hulle nie maar haar ouers se dokumente, wat vir hulle niks beteken nie, ook maar laat staan het nie. Die roof is by die Polisie aangemeld en die saak word ondersoek.