Sport

Bosveld trofee hengelkompetisie

THABAZIMBI – Die jaarlikse hengelkompetisie tussen Northam Hengelklub en Swartklip Hengelklub vind hierdie jaar op Saterdag 8 September te Roodekoppie dam plaas. Dit is ‘n oornag kompetisie wat reeds op 12:00 die Saterdag ‘n aanvang neem. Op hierdie selfde naweek vind Northam Hengelklub se maandelikse klubkompetisie ook plaas. Die hengelaar met die meeste punte sal die Bosveld Trofee kompetisie wen en die een met die grootste vis, wen die klub kompetisie. Penkoppe wat wil inskryf kan gehelp word om die lyn in te gooi en om die aas te ruil, maar moet self die vis uit die water trek. Elke hengelaar moet sy eie net hê waarin die vis wat gevang is gebêre word. Hierdie net moet met die betrokke hengelaar se naam gemerk word. Alle vis wat gevang word kan in die net geplaas word behalwe Kurpers wat kleiner as 150mm in lengte is. Daar mag ook nie meer as 20 in ‘n betrokke net wees nie. Slegs twee visstokke word toegelaat per hengelaar. Vissermanne wat nie aan die hengelklub behoort nie betaal ‘n ingang fooi van R100 per gesin, wat insluit man, vrou en kinders wat dieselfde huis bly. Elke hengelaar is verantwoordelik vir sy eie ingangfooi en hengelaars wat genomineer is om aan die Bosveld Trofee kompetisie deel te neem betaal R20. Daar is groot kontantpryse op die spel en dit beloof om ‘n harde stryd tussen die gesoute hengelaars te wees. Vir enige verdere informasie skakel gerus vir Ronnie du Toit by 073 665 8169 of Jorrie Jordaan by 082 572 8236