General

Projek “Happy Feet” skop af in ysige wind

THABAZIMBI – Die beplande Pojek “Happy Feet”, waar alle deelnemers per kilometer of per eenmalige donasie geborg word, gaan help om fondse vir die NG Kerk Thabazimbi se Vrouebelange in te samel. Daar word beplan om op Saterdag, 1 September die 80km, van die PPCfabriek in Dwaalboom tot by die NG Kerk Gemeentefees in Thabazimbi te voet en per fiets af te lê. Die “Hang Gliders” van Thabazimbi het reeds van hierdie uitdaging te hore gekom en die uitdaging aanvaar om ook deel van projek “Happy Feet” te wees. Hulle gaan op hulle beurt op dié dag poog om met een sprong van Thabazimbi af Dwaalboom toe en weer terug te sweef. Die deelnemers van hierdie projek neem in 3 hoofgroepe deel. In Groep 1 (huidig 11 lede) lê elke lid die 80km af in 4 fases waarvan 1 fase 10km fietsry en 10km draf insluit. In Groep 2 (huidig 11 lede) lê elke lid die 80km af in 4 fases waarvan 1 fase 15km fietsry en 5km draf insluit. In Groep 3 word die besighede en ander entoesiaste akkomodeer in spandeelname op ’n aflosbasis. Die 4 spanlede in Groep 3 lê elkeen net een fase van 15km fietsry en 5km draf af, waarna daar oorgegee word na die 2de, 3de en 4de spanlede om die totale afstand van 80km te dek. As daar enige besighede is wat aan hierdie “Happy Feet Challenge Relay” wil deelneem, skakel gerus vir Luzaan Combrink by 014 777 2238/082 593 7084 en sy sal inskrywingsvorms vir julle aanstuur. By die kerk sal daar ook as deel van die gemeentefees ‘n 5km pretdraf om 13:30 aangebied word. Oud en jonk kan hieraan deelneem. Inskrywings beloop R5 per deelnemer. Die projek het sy ontstaan te danke aan die hoofkarakter, Mumbo, in die film “Happy Feet”. Mumbo is ’n klein pikkewyntjie wat nie kan sing nie. In sy kolonie is dit baie belangrik om te kan sing en dat elkeen weet wat sy/haar “heart song” is, want anders word jy eintlik glad nie as ’n pikkewyn gesien nie en verwerp deur die groep. Die film het egter ’n gelukkige einde wanneer Mumbo die hele kolonie red deur sy unieke manier waarop hy sy “heart song” hoor – sy voete! Die paar drawwers en fietsryers in Thabazimbi en die gemeenskap wil met Projek “Happy Feet” uiting gee aan hulle passie vir sport, maar ook gehoorsaam wees aan die opdrag van die uitbouing van die Koninkryk (gemeentegebonde of nie). Deur die leuse “passie + gehoorsaamheid = aksie”, volg elke lid sy/haar “heart song” op 1 September deur hulle deelname aan Projek “Happy Feet”. Enige belangstellendes of mense wat navrae het kan die NG Kerkkantoor kontak by 014 772 2270 of die projekorganiseerder, Luzaan Combrink, by 014 777 2238/082 593 7084. Hou Die Kwêvoël dop vir verdere inligting m.b.t. Projek “Happy Feet”! May your feet be happy too! Die film “HAPPY FEET” word ook Vrydagaand, 3 August 2007 om 18:30 gratis vertoon by die NG Kerk Thabazimbi se Kerksaal. Enige persone is baie welkom. Kerrie en rys sal te koop aangebied word teen R10.00. ‘n Donasie by die deure is welkom. Bring julle gesinne, kry Kerrie en rys en geniet die mooi storie van Mumbo en gaan huistoe met ‘n lied in jou hart om die omstandighede dig naby jou te verander met ‘n passie wat jy beleef. Op Saterdag 28 Julie 2007 en het van Thabazimbi se marathonatlete die Old Mutual Rustenburg Kloof se 25 km aangedurf waarmee die projek “HAPPY FEET” dan afgeskop is. Venter en Luzaan Combrink en Herma du Plessis het die ysige koue weer aangedurf en die steil en moeilike 25 km in die genoegsame, “van-alle-kante-af-wind” trotseer en daarmee hulle belofte rondom die projek nagekom. Saam met ongeveer 500 ander atlete het hulle om 07:00 Saterdagoggend die kloof van Rustenburg Kloof begin uitstap/hardloop. Vir 6 uitmergelende kilometers het hulle teen die wind die kloof aangevat, teen die berg af tot in die pragtige Kwagasana Natuurreservaat. Die mooi natuurskoon het darem opgemaak vir die gure natuurelemente. Hulle wil net vir elkeen wat hulle geborg of donasie gegee het, baie dankie sê vir julle betrokkenheid by hierdie projek. Mag “Happy Feet” nog lank leef in die harte van Thabazimbi.