Sport

Johannes en Willie wen Nashua Beterbal

THABAZIMBI – Die plaaslike gholfklub het op Saterdag 28 Julie ‘n Beterbal gholfdag geborg deur Nashua aangebied. Die nuwe voorgee-stelsel is gebruik waar spelers op 75% van hul voorgee moes speel. Wenners was Johannes Selokela en Willie Barnard met 47 punte. Tweede was Riaan Vorster en Jacob Jordaan met 45 punte en N Steenkamp en H Bear was derde met 44 punte. Johannes en Willie het elk ‘n nuwe drukker ontvang as wenprys. Tydens die prysuitdeling het Jacques van der Westhuizen, streeksbestuurder van Nashua, die gehoor verseker dat Nashua groot planne het om in Thabazimbi uit te brei en by die gemeenskap betrokke te raak. Die ete wat na die prysuitdeling voorgesit is deur Griet van der Merwe en haar span was puik. Namens die gholfklub en al die speler word Jacques en sy span bedank vir ‘n besondere dag. Die meeste gereelde spelers beskik deesdae oor e-pos adresse en hulle word versoek om dit asseblief vir Irma deur te gee. Lede kan dan in die toekoms vinning en op ‘n goedkoop manier op hoogte gehou word van belangrike gholfdae. Die eerste fase van die klubhuis-opgradering is bykans klaar en groot dank aan Dr Willem du Plessis wat die groot dryfkrag agter die projek is. Die volgende fase behels die bou van ‘n nuwe kroeg waarna die kleedkamers gaan volg. Die is egter langtermyn projekte wat per jaar afgehandel sal word. Die klub se finansiële jaar het ook reeds geëindig en ledegeld is weer betaalbaar. Dit is die getroue betaling van hierdie ledegelde wat dit moontlik maak dat die klub die afgelope tyd so goed vaar. Die baan is in ‘n puik toestand en die klub was sodanig bevoorreg om Super Sport hier te hê. Die klubhuis is besig om ‘n besondere karakter te kry en die komitee is trots om aan lede te wys hoe hul lede- en speelgeld benut word. Dit is daarom baie belangrik dat alle lede die Algemene Jaarvergadering op Woensdag 8 Augustus na die Sundowner moet bywoon.