Entertainment

Shoprite Checkers Championship Boerewors-kompetisie

THABAZIMBI – Die wenners van die eerste groep streekrondtes in vanjaar se Shoprite Checkers Championship Boerewors-kompetisie is aangewys. Wenners in die onderskeie streekrondtes sal deurdring na tien provinsiale rondtes in September. Met die reuk van braaiwors hangende oor die gebied, het besoekers aan die onderskeie braai-makieties, wat regdeur die land gehou is, pret en plesier soos min beleef. Bekendes wat opgetree het, moes behoorlik bontstaan om hulle bewonderaars in toom te hou. Die eienaar van die slagpale op Thabazimbi, Louisa Penzhorn, het die streekrondte op die dorp gewen. Die bestuurder van die vleismark by die plaaslike Pick ‘n Pay op die dorp, Kevin Eva, het tweede gekom, met ‘n slagter van die Shoprite-tak op die dorp se vleismark, Isaiah Mampebana, derde. Die Championship Boerewors-wenresep sal teen einde Oktober landwyd op die rake by alle Shoprite, Checkers ern Checkers Hyper-winkels wees – betyds vir die somer en Kersvakansie se vele braaivleisvure. Die volgende streekrondtes vind eerskomende Saterdag, 4 Augustus by verskeie ander Shoprite, Checkers en Checkers Hyper-winkels landwyd plaas. Die tien provinsiale rondtes vind almal op 15 September plaas, een in elke provinsie, behalwe in Gauteng, waar twee gehou word – op Edenvale en in Sophia Town. Streekwenners in KZN meet kragte in Durban; Vrystaatse streekwenners in Bloemfontein; Noord-Kaap in Kimberley; die Wes-Kaap op Stellenbosch; die Oos-Kaap in Port Elizabeth; Limpopo in Polokwane; Noord-Wes op Potchefstroom en Mpumalanga-streekwenners in Nelspruit. Die eindrondte van die 2007 Shoprite Checkers Championship Boerewors-kompetisie vind op Saterdag, 6 Oktober, by Sun City plaas, wanneer die onderskeie provinsiale wenners kragte meet. Die wenner sal wegstap met ‘n groot glimlag, ‘n gesogte titel onder die blad en ‘n splinternuwe Toyota Hilux 2.7 Dubbelkajuit Raised Body Raider-bakkie as eerste prys. Verskeie pryse kan egter ook in die streeken provinsiale rondtes gewen word.