General

Gewilde sepie se dae dalk getel

Die gewilde sepie, Egoli, wat miljoene kykers saans voor die kassie hou, se einde is ná 13 jaar “‘n besliste moontlikheid”. Verskeie Egoli-akteurs het gesê hulle weet nie of hulle aanstaande jaar nog werk gaan hê nie.
“Die twee ekstreme werklikhede in verband met Egoli is óf dat dit in geheel gestaak en van die skerms verwyder word, óf dat ons ons kanse waag en dit in die huidige formaat voortsit” het mnr Carl Fisher, hoof van M-Net se afdeling vir plaaslike produksies Woensdag gesê.
Dié situasie het ontstaan nadat die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) verlede jaar beveel het dat M-Net se oopkyktyd van 17:00 tot 19:00 saans van April aanstaande jaar af moet verdwyn. Egoli word in dié oopkyktyd uitgesaai.
“Dié sepie is verreweg ons grootste enkele uitgawe en as die oopkyktyd verval, gaan ons adverteerders, kykergetalle en gevolglik inkomste verloor. Daarom is ons gedwing om te kyk na maniere hoe ons geld kan bespaar en omdat Egoli so duur is, is dit natuurlik die logiese plek om te begin”, het Fisher gesê.
Dit is bekend dat Egoli in sy huidige formaat ses minute se advertensies per episode trek teen R40 000 vir 30 sekondes. Dit beteken ‘n inkomste van R480 000 per episode. Teen 260 episodes per jaar kom dit vir M-Net op ‘n jaarlikse advertensie-inkomste van meer as R124 miljoen te staan.
Die vrees is dat dié syfer kwaai sal val sodra die oopkyktyd verval. Fisher het gesê daar is “nog ‘n paar opsies tussen die twee ekstreme opsies”, maar samesprekings word tans gevoer en ‘n finale besluit word teen Mei verwag.
Mnr Burgert Müller, mede-vervaardiger van Egoli, het gesê M-Net hernu jaarliks in Junie die Egoli-kontrak vir ‘n jaar en sal hulle dus nie voor dan weet wat aangaan nie.