General

SA vragmotormark haal tweede beste verkopejaar nog

Die Suid-Afrikaanse handelsvoertuigmark vir voertuie bo 3 500 kg bruto voertuigmassa (BVM) het 2005 op dieselfde hoë noot afgesluit as wat dit regdeur die jaar volgehou het.
“Die algehele verkope van 2 028 eenhede wat vir Desember by die Nasionale Vereniging van Motorvervaardigers van Suid-Afrika (Naamsa) aangemeld is, het die jaar se verkoopsvolume tot by 27 413 eenhede opgestoot – die tweede hoogste ná die vorige rekord-aantal verkope van 30 742 eenhede wat destyds in 1981 aangeteken is,” het Frans Cloete, uitvoerende vise-bedryfspresident van Nissan Diesel Suid-Afrika, gesê.
“2005 se vertoning was ook 31,7% hoër as die algehele vragmotorverkope van 2004, en groei is in elke segment van die mark aangeteken,” het Cloete gesê.
Die afdeling vir medium handelsvoertuie (MHV) het altesaam 12 249 verkope in 2005 gehaal – ‘n stewige 41,8% hoër as 2004 se syfer. Verkope in die afdeling vir swaar handelsvoertuie (SHV) het met ‘n ewe indrukwekkende 39,1% teenoor 2004 se verkope gestyg, en altesaam 5 177 eenhede is deur die jaar van die hand gesit. Die afdeling vir ekstraswaar handelsvoertuie (ESHV) het verkope van 8 953 eenhede in 2005 aangeteken – ‘n styging van 19,3% in vergelyking met die vorige jaar. Busverkope het met 8,2% teenoor die algehele verkope in 2004 gestyg en 2005 op ‘n syfer van 1 034 eenhede afgesluit.
“Die jaar 2005 was vir die spelers in die vragmotormark gewis ‘n jaar wat onthou sal word,” het Cloete gesê.  “Verkoopsvolumes het bestendig bokant selfs die mees optimistiese voorspellings uitgebeur, en nadat die neiging van sterk groei eers aan die begin van die jaar daargestel was, het die mark maand vir maand met amperse rekord-verkope vorendag bly kom. Op die ou einde was die groei van 31,7% vir die jaar kop en skouers bo die syfer van 27,5% wat spelers in die mark aan die einde van 2004 om verstaanbare redes in hul noppies gehad het.”
Volgens Cloete was die groeimomentum in die mark in 2005 baie breed. Op die gebied van blote volume het verkope in die MHV-afdeling vir die grootste komponent van die indrukwekkende markgroei gesorg, en dié segment het regdeur die jaar ‘n string individuele rekordmaande gelewer. MHV-verkope vir die hele jaar het vir 44,7% van die algehele mark gesorg, SHV’s het 18,9 % van die markaandeel gehaal, die ESHV-afdeling het op 32,7% afgesluit en busse het 3,7% van die markaandeel ingeneem.
“Hoewel hierdie vertoning ongetwyfeld aangehits is deur die bekendstelling van nuwe bakkie- en taxi-modelle in die MHV-segment, is en bly die kern-sukses van hierdie afdeling die verkope van vragmotor-onderstelle en geïntegreerde paneelwaens in die baie aktiewe kleinhandel- en diensnywerheidsektore, terwyl ‘n gerusstellende opswaai in ‘n nuwe vraag na voertuie uit die geledere van die kleinsake-sektor ook na vore gekom het.”
Nog rede tot opgewondenheid vir die verskaffingsbedryf is die sterk herlewing van SHV-klas voertuie ná die dekadelange kwyning van dié deel van die mark.  Hierdie hernieude klem op die vervanging en opgradering van 4×2-eenhede, wat die kern van baie vlote is, kan net tot groot voordeel van produktiwiteit en padveiligheid strek.
Wat die ekstraswaar-afdeling van die mark betref, is sterk verkope volgehou ten spyte van al die praatjies oor die herlewing van die spoornetwerk. Die werklikheid is dat vragmotors steeds Suid-Afrika se hooftoevoerpaaie oorheers, en dit sal aanhou doen totdat ander vorms van vragvervoer bewys het dit kan die vertoning van padvervoer ewenaar wat koste, veelsydigheid en voorspelbaarheid betref.
Die busafdeling was die enigste van al die marksegmente wat sy teleurstellende vertoning in 2005 voortgesit het, en het skaars deur die kerf van 1 000 eenhede gebreek. Hoewel die algehele verkope van uiteindelik 1 034 eenhede wel ‘n effense verbetering teenoor 2004 se verkope van 955 eenhede was, bly hierdie segment al vir langer as vyf jaar sywaarts beweeg, en het dit bemagtiging van die nasionale sowel as plaaslike regering af nodig ten einde vorentoe te beur.
“Daar is egter ‘n paar welkome tekens dat bykomende momentum in die tweede helfte van die dekade vir pendelaarbusse en toerbusse tot dié marksegment gevoeg kan word,” het Cloete gesê. “Met Suid-Afrika die gasheerland vir die sokker-wêreldbeker in 2010, sal die land ‘n groot aantal bykomende busse en toerbusse nodig hê om die verwagte massas toeriste wat na die land sal stroom, te vervoer, en die organiseerders en owerhede behoort hierdie vereiste in hul beplanning in ag te neem ten einde die sukses van die byeenkoms te help verseker.”
Wat die toekoms betref, is Cloete optimisties oor die vooruitsigte vir die breër vragmotormark. “Hierdie bedryf sien al lank uit na die dag wanneer die bestaande jaarlikse rekordsyfer van 1981 se verkope uiteindelik oortref gaan word. Ons kan nou realisties planne maak vir hierdie mylpaal wat binnekort bereik sal kan word.
“Namate ons deur 2006 beweeg, is ‘n nuwe maatstaf net meer as 12 persentasiepunte se groei tergend naby, wat ver onder die markuitbreiding is wat die bedryf jaar tot jaar vir 2004 en 2005 behaal het,” het Cloete gesê.
“As die heersende makro-ekonomiese toneel van lae rentekoerse, stabiliteit van die rand en robuuste binnelandse vaste beleggings voortduur, is daar geen rede waarom 2006 nie die jaar behoort te wees waarin ‘n splinternuwe verkoopsrekord uiteindelik aangeteken kan word nie.”