Gholfnuus
THABAZIMBI – Die nuwe jaar het op ‘n hoë noot vir die Gholfklub begin. Die goeie reën gedurende die vakansie het die baan reeds klaar in ‘n klein monster verander. Al die lede is veilig terug van al die oorde en kon die klub met ‘n handige aantal spelers die eerste Slagspel van die jaar afskop.
Die enigste dame wat die dag gespeel het, Jeanette Rall, stof al die manne uit en is die wenner met net 72. Toppie Olivier (73), Jakkie van der Wateren en Ettienne le Roux albei op 76 was die ander wenners. Quartus Snyman wen die gelukkige trekking, maar omdat hy vroeg weg is koop die klub toe ‘n rondte vir die manne wat daar was.
Die spel is die middag ‘n ruk onderbreek as gevolg van swaar weer, maar kon toe weer betyds aangaan sodat almal nog gemaklik hulle rondtes kon voltooi. Dit is net jammer dat daar soveel telkaarte ingehandig is met geen tellings (N/R) nie. Dit is onaanvaarbaar en nie in die gees van die spel nie.
Die Klub wil ook graag ‘n ou lid terug verwelkom as die nuwe bestuurder van Thabazimbi Ystermyn. Welkom mnr Aart van den Brink en die hele gesin. Julle was regtig nie eers weg nie toe is julle weer terug.
Baie geluk aan al die gewese Juniorlede en hulle ouers, wat matriek geslaag het en nou die harde lewe moet trotseer. Sterkte en baie krag word julle toegewens.
Januarie se program lyk so: Saterdag 14de, Individuele Stableford, kaarte word om 12:00 getrek. Vrydag, 20ste: Bosveldliga-vergadering in die klubhuis. Saterdag, 21ste: Beterbal Stableford, kies jou eie maat en pare sal getrek word. Donderdag, 26ste: Sages op Naboomspruit, Gholf en dan die Algemene jaarvergadering. Saterdag, 28ste: Vierbal Alliansie, kies eie maats. Dan is dit die Pick ‘n Pay Sundowner elke Woensdagmiddag.