Luukse Bosveld-wegbreek binne bereik
Waar vind ‘n mens ‘n eksklusiewe bosveld-rusplek waar jy altyd welkom sal voel? In die hart van die Bosveld, natuurlik…
“Angasii is die plek waar jy jou skoene kan uitskop en waarlik ontspan, maar steeds luuksheid en gerief in die hartjie van die natuur geniet.” Só vertel die gasvrye Kate Coleman, medebestuurder van Angasii Game Lodge.
“By Angasii beskik ons oor eersteklas-geriewe en uitstekende diens om die gesin wat ten volle wil wegbreek vir ‘n naweek, of bloot die reisende sakepersoon, welkom te laat voel,” sê Kate.
Angasii Game Lodge is sowat 5 km buite Northam op die Thabazimbi-pad geleë. Dié bosveldplaas van meer as 1 200 ha is in die hartjie van Noordwes se wildboer-distrik.
Die geriewe op Angasii sluit in ‘n dameskroeg en restaurant met smaakvolle interieur en smullekker geregte. Angasii is uitstekend ingerig om met gemak as ‘n bestemming vir konferensies, funksies of spanbou-sessies ingespan te word.
Volgens Kate streef hulle daarna om hul gaste se verblyf ‘n onvergelykbare ervaring te maak. Hulle bied verskeie aktiwiteite en dit behels onder meer wildkyk-ritte per bakkie of viertrekmotorfiets wat self bestuur kan word, pieknieks in die bos, bergfiets- en staproetes, binne- en buitemuurse speletjies soos Scrabble en Croquette, kleiduif-, teiken- en boogskiet en die jagseisoen duur hier heeljaar. Dagbesoeke aan Sun City en Marakele kan ook gereël word.
“Angasii se gerieflike selfsorg-eenhede waarborg privaatheid en word omring deur keurige binne-afwerkings. Hoewel ‘n gas hier so ná as moontlik aan die natuur leef, verseker pasgemaakte katoenlinne op alle beddens en handdoeke van gehalte ‘n snoesige kuier.”
Die oordeelkundig ontwerpte wooneenhede beskik almal oor televisiestelle, maklike toegang tot ‘n swembad en waaiers of lugversorging. Hout en vuuraanstekers word voorsien en die eenhede word daagliks skoongemaak. Vir ekstra gemoedsrus is elke eenheid met sy eie alarmstelsel sowel as programmeerbare kluis ingerig.
“Kom kuier gerus en aanskou ‘n sonsondergang uit een van ons verhewe bosskuilings,” nooi Kate hartlik. “Kyk hoe die wild kom water suip en die voëltjies vir oulaas groet voor die naglewe ontwaak. Óf fliekvlooie kan op ‘n wye doek onder die sterrehemel na Suid-Afrikaanse (en Hollywoodse) sterre kom kyk, terwyl ‘n beker warmsjokolade bedien word.”
Luuksheid in die Bosveld, dit bied Angasii beslis sonder weerga. Kyk gerus uit vir meer inligting oor Angasii by vandeesweek se Thabazimbi Wild en Toerisme Expo. Angasii Game Lodge borg Die Kwêvoël se potjiekoskompetisie en ‘n prys ter waarde van sowat R6 000 is op die spel.
Vir meer inligting oor Angasii of ‘n volledige tarieflys van die selfsorg-wooneenhede kan u gerus vir Kate of Marco Coleman by tel: (014) 784 0497, sel: 082 788 0575 of e-pos: angasii@gds.co.za kontak.