Afrikaans kóók by Afrikiti!
Gooi dit, meng dit, proe dit op jou tong… smul aan die sappigste stories, peusel aan die pittigste sêgoed gepeper met die lekkerste kruie en moet nóóit weer jou woorde sluk nie, want Afrikaans Kóók!
Besoekers aan die Thabazimbi Expo sal dit ook duidelik ervaar met hierdie ATKV Feesopvoering moreaand, Saterdagaand 30 April, by die Expo.
Die ATKV loop al ‘n lang pad saam met Afrikaans en daar kan vandag, net mooi 75 jaar later, met trots gesê word hoe hulle gehelp roer het aan ons lekkerbek-fynproewerstaal om te sorg dat die Afrikaanse gemeenskap een van die hoofbestandele van die Suider-Afrikaanse hutspot bly.
‘Afrikaans Kóók’ is die feesjaar-klinkreël en dien ook as kapstok vir die jaar se feesaktiwiteite wat landwyd aangebied word. Daar word fees gevier in Afrikaans, vir Afrikaans en is trots Suid-Afrikaans.
Die hoofdoel van hierdie projek is om die Afrikaanse gemeenskap as die Afrikaanse kleur in die Suid-Afrikaanse reënboog nog helderder te laat uitstaan, deur gemeenskapsbande te versterk en nuwe vriendskappe en vennootskappe te vestig en te koester.
Afrikiti is die grootste jol in Afrikaans ooit, waar Afrikaans oor die tonge trippel en bokspring. Kom luister en beleef die hoogtepunte van Afrikaanse musiek oor die afgelope dekades, kom kyk na die bydraes van die groot Afrikaanse geeste in hierdie eenstop-geenstopviering! ‘n Hutspot van kokende Afrikaanse talent wat ‘n beeld van trots Afrikaans, trots in Afrikaans en trots Suid-Afrikaans laat oorkook!
Die ‘kokke’ is Nina Swart, Soli Philander, Rina Hugo, Hi-5 en Sibongile Mngoma met ‘n vyfstuks orkes. Die teks van hierdie produksie is saamgestel deur Saartjie Botha en Hennie van Greunen. Alles geskied onder die leiding van AJ van der Merwe en Lulu van der Walt.
‘n Afrikiti is ‘n konsert wat die aarde gaan laat dreun en beloof om ‘n onvergeetlike jôl te wees. Die beste van alles – dis veilig vir kinders! Almal gaan ‘n kans kry om by Afrikiti te kom saamskoffel, kwêla, kwaito, sakkie-sakkie en veral te kóók.
Hang jou lus al uit vir ‘n bietjie jol in Afrikaans? Maak dan ‘n groot rooi kring op die kalender by 30 April, want dan kom die Afrikiti na die Thabazimbi Wild en Toerisme Expo.
Onthou, as jy jou toegangsgelde by die hek betaal het, is jou Afrikiti gratis! Die vertoning begin om 20h00 by die hoofverhoog.