General

INTERNASIONALE PROJEK OOR DIE BEKAMPING VAN VERWOESTYNING SKOP AF

Die Noordwes-Universiteit het gedeel in die 2004 “Millenium Science Award” weens sy betrokkenheid by die Desert Margins Program. Die toekenning deur ICRISAT (International Crops Research Institute for Semi-Arid Tropics) word vir uitmuntende wetenskaplike bydraes en volhoubare bestuur gemaak. Die DMP-projek word as die grootse land-degradasieprojek wat deur die Verenigde Nasies (VN) bestuur word, beskou.
Die tweede fase van dié land-degradasie en volhoubare weiveld bestuursprojek het onlangs in Suid-Afrika afgeskop. Die eerste fase van hierdie multidissiplinêre projek, wat deur nege lande in Afrika uitgevoer word, is aan die einde van verlede jaar voltooi.
Die totale begroting vir die projek beloop oor die 50 miljoen Amerikaanse doller. Die tweede fase van hierdie ses-jaar projek het vroeër vandeesmaand begin. Die projek in Suid-Afrika word deur prof Klaus Kellner van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus bestuur. Die ander Afrika lande wat by die projek betrokke is, is Namibië, Zimbabwe, Botswana en Kenia van die Suid-Oos Afrika streek, en Mali, Burkina Faso, Niger en Senekal van die Wes-Afrika streek.
“Die oorhoofse doelwit van die projek is om maatreëls vir die beheer van land-degradasie en die bewaring van die biodiversiteit in ariede en semi-ariede streke te bestudeer en deur middel van demonstrasie en ontwikkelingsprogramme verbeterde bestuursstrategieë te implementeer,” het Kellner verduidelik.
Tradisionele gemeenskappe en landgebruikers werk saam met navorsers en tegnici van akademiese- en staatsinstellings, asook nie-regeringsorganisasies, om antwoorde te verkry op watter impak land-degradasie en verwoestyning op die ekosisteem en die natuurlike hulpbron het en hoe om beter bestuursstrategië in die gedegradeerde weiveldgebiede implementeer kan word.
“Die invloed van die prosesse van degradasie op die verlies in biodiversiteit word ook bestudeer.  Degradasie van weiveld vind gewoonlik in dele van ‘n land plaas waar die bevolking baie arm is. Die proses van degradasie word vererger deur die geweldige bevolkingsgroei en die hoër druk wat daardeur veroorsaak word op die natuurlike hulpbron. Een van die doelwitte van die projek is om alternatiewe bronne van inkomste as boerdery aktiwiteite vir die arm bevolkingsgroepe te ondersoek, om sodoende die druk wat op die natuurlike hulpbronne geplaas word, te verminder. Daarom is dit belangrik dat inheemse en tradisionele kundigheid in die projek ingespan moet word om alternatiewe bronne van inkomste te ondersoek (“alternative livelihoods”) sodat die lewenstandaard van die arm bevolking oor ‘n tydperk verbeter word, prof Kellner, wat die nasionale koördineerder van die projek is, verduidelik.
Die doel van die projek is om nie net toepaslike alternatiewe bronne van inkomste te ondersoek en te evalueer nie, maar om te verseker dat die plaaslike bevolkings sulke projekte aanvaar en implementeer. Plaaslike landgebruikers, insluitende boerevereenigings, regeringsorganisasies en opleidingsinstansies, asook ontwikkelingsprojekte wat deur nie-regeringsorganisasies daargestel word, vorm deel van hierdie groot projek. Die DMP program werk ook nou saam met ander projekte, soos die Nasionale Landcare program wat deur Suid Afrikaanse landbou op nasionale en provinsiale vlak geïmplementeer is. ‘n Belangrike aspek van die DMP program is om ook die beleidmakers en politici by die program te betrek.
Die projek in Suid-Afrika word slegs in die Molopo streek van die Noordwes-provinsie en dele van Namakwaland, Nieuwoudtville en die Kalahari in die Noordkaap-provinsie uitgevoer. Hierdie gebiede grens ook aan Botswana en Namibië wat samewerking met dié lande vergemaklik. Die internasionale organisasie, Global Environmental Facility (GEF), is die hoof finansierder van die DMP-projek in Afrika. GEF finansier hoofsaaklik reeds bestaande projekte en daarom is dit belangrik dat soortgelyke aktiwiteite wat deur die DMP-projek uitgevoer gaan word, reeds in die studiegebiede bestaan. Die Noordwes-Universiteit, in samewerking met verskillende nasionale en internasionale instansies, veral departement Landbou, is reeds sedert 1996 besig met navorsing en ontwikkelingsprojekte oor tegnieke en praktyke om versteurde en degradeerde natuurlike weiveld te restoureer vir beter grasveldproduksie en bewaring van die natuurlike hulpbron.
Volgens die VN is 66% van Afrika geklassifiseer as woestyn en semi-woestyn gebied.  Die plaaslike gemeenskappe het egter oor duisende jare geleer om in harmonie saam met die natuur in die gebiede te oorleef.  Daarom word plaaslike gemeenskappe nou betrek by die navorsingprojek vanweë hulle inheemse kennis van die gebied.  Hulle samewerking is van groot belang om uiteindelik die resultate van die navorsing in die gebied te implementeer. In die navorsingsprojek sal dus ook die sosio-ekonomiese en kulturele aspekte van die betrokke gemeenskappe in ag neem.