Frikwensies revuegroep voorskou vir Eden
THABAZIMBI – Hoërskool Frikkie Meyer se top revuegroep, die Frikwensies, tree vanaand as deel van die voorskou vir Eden by die Wild en Toerisme Expo op. Die vertoning begin reeds om 19:30 en moet nie misgeloop word nie.
Die Frikwensies het die besondere voorreg gehad om op uitnodiging op 17 Julie 2004 by die Sun City Extravaganza op te tree. Al die kaartjies vir hierdie vertoning was uitverkoop en die groep is na aanleiding van hierdie sukses, weer uitgenooi om in September 2005 by die Extravaganza te gaan optree. Fondse wat by hierdie vertonings geïn word, word aan die “AIDS benefit fund” geskenk.
Hulle het ook verlede jaar aan die Minimax revue-kompetisie deelgeneem. Skole uit ses provinsies in die land het ingeskryf en die Frikwensies stap as algehele wenners met die louere weg. Die groep neem vanjaar weer aan die Minimax kompetisie, wat nou landswyd geloods word, deel.
Die besondere harde werk van hierdie groep is in die verlede bekroon, deur een van drie revuegroepe te wees, wat na Aardklop Kunstefees genooi is. Hier het hulle dan ook in die ATKV amfi-teater ‘n staande ovasie ontlok. Hulle het ook by die Rentmeester Jeugkunstefees in die Staatsteater, Pretoria opgetree.
Die Frikwensies se groot fondsinsamelingsprojek, hul vars wildsvleisstalletjie, sal ook weer vanjaar by die Expo wees. Hierdie projek word deur die Frikwensies ouerkomitee geloods om beligting en klanktoerusting aan te koop, die dekorstel te verbeter en voortdurend die tegniese sy van die produksie te verbeter. Daardeur word gepoog om die revue kostes vir ouers so laag as moontlik te hou. Die Frikwensies beywer hulle ook vir liefdadigheidswerk deur, sedert 2004, jaarliks ‘n vertoning by die Abraham Kriel Kinderhuis te lewer.
Die Frikwensies bestaan reeds agt jaar en dra as ware ambassadeurs die skool en die dorp se naam uit na Namibië, die Noord-Kaap, die Laeveld, Noordwes en Gauteng. Hulle het in 1998 ontstaan toe ‘n groepie leerlinge gekeur is om tien liedjies in te oefen vir die skool se jaarlikse kultuurweek. Hierdie groepie kinders se harde werk en deursettingsvermoë het ‘n deeglike afgeronde produk tot gevolg gehad.
Daar is ingestem om ‘n volledige revue die volgende jaar aan te pak en daar is selfs toestemming verkry om ‘n CD op te neem en die skoolhoof, mnr Deon Azar het die groep aangemoedig om ‘n toer te onderneem. Dit was egter makliker gesê as gedaan, want ‘n hele dekorstel, beligting en klanktoerusting sou vervoer moes word na die Noord-Kaap. Die bul is egter by die horings gepak en die struikelblokke is oorkom. Die Frikwensies vertrek op hulle eerste toer in Julie 1999. Die dekorstel op ‘n oop beestrok gelaai en teen sowat 80km/h is die lang tog na Sishen aanpak.