General

Selfoonbedrog het inwoners gaande

THABAZIMBI – ‘n Beweerde selfoonbedrog foefie wat weer in die omloop is, het Thaba inwoners gaande. Die “waarskuwing” wat sogenaam deur Vodacom uitgereik is dat selfoonverbruikers op hul hoede moet wees vir onbekende “please call me” nommers, is onwaar en bestaan nie, sê mnr Michael Rautenbach by Vodacom se “Risk and Protection Specialist” afdeling.
Die waarskuwingsbrief word op ‘n vervalsde Vodacom briefhoof aan besighede op Thabazimbi gefaks en so ‘n afskrif is na Die Kwêvoël kantore gebring. Die brief lui dat selfoongebruikers op hul hoede moet wees en nie onbekende nommers moet antwoord of reageer op ‘n onbekende “please call me” nie.
Die sindikaat wat glo hierby betrokke is maak glo gebruik van ‘n 072 nommer en sodra jy die “please call me” beantwoord, beloop jou kostes R50.50 per sekonde en sal die persoon aan die anderkant jou tot 10 sekondes lank probeer besig hou met onbenullige geselsies en so ten minste R505 uit jou oproep maak.
Rautenbach het egter sy versekering gegee dat hierdie brief net ‘n gekskeerdery van iemand is en dat bogenoemde ongegrond is en nie uitvoerbaar is nie.