Boemelaarsdans doen dit weer
THABAZIMBI – Bosveld Akademie het verlede Vrydagaand weer hul Boemelaarsdans aangebied by die Trollope saal. Vanjaar het hierdie gesellige byeenkoms veral groot aftrek onder die jong klomp gekry en aan oorspronklikheid het daar ook nie ontbreek nie.
Op maat van Paul Dreyer se skoffel musiek, het die boemelaars met krukke, voete in verbande en “Checkers” trollies die dansbaan laat dreun. Die bes gekleede boemelaar vir die aand was Jan Greyling en die bes gekleede boemelaarsvrou was Esmé Venter.
Die boemelaars was bevoorreg en kon in ‘n ry gaan staan om die magies weer vir ‘n slag gevoed te kry met heerlike pap en wors wat bedien is. En indien jy die afgelope twee jaar Bosveld Akademie se boemelaarsdans gemis het, word jy aangeraai om volgende jaar daarop te verbeter en byvoorbaat jou kaartjies te bespreek.