General

Sterbelaaide aand vir GMT 2005

Die sterre van die Afrikaanse musiekbedryf betree die rooi tapyt op 7 Maart wanneer kunstenaars se prestasies by GMT 2005 vereer word. Die geleentheid word aangebied deur SABC 2 en Nina Swart. Alvin Bruinders sal die glansryke seremonie waarneem. Dit vind plaas in die Circus Maximus-teater by Caesars Gauteng.
Alle oë is veral op die groepe en musikante wat verskeie nominasies ontvang het. Hulle sluit in die Bloemfonteinse groep ddisselblom, wat die toon aangee met vyf nominasies vir Goud en Marog; harde rockers F**ofpolisiekar het vier nominasies vir hul album ‘Lugsteuring’; Coenie de Villiers het vier nominasies vir ‘Handgemaak’ en nuweling Jan Blohm spog ook met vier vir sy debuutalbum ‘Melkstraat Confessions’.
‘n Opwindende lys kunstenaars – gevestigd en nuut – sal by vanjaar se geleentheid optree, insluitende die baie gewilde Nicholis Louw, sensasionele Jan Blohm, onnabootsbare F**ofpolisiekar, en Kallitz, die hip-hop groep met hul harde, eerlike boodskap uit die Kaapse Vlaktes. ‘n Verrassende spanpoging deur Sibongile Mngoma en Kurt Darren en ‘n optrede deur diva Amanda Strydom is ook op die spyskaart. Gerugte doen die rondte dat Pitstop se animasiekarakters, Vis en Tjips, ook ‘n verskyning sal maak.
GMT 2005 sal opgeneem en as ‘n 90-minuut lange spesiale uitsending op SABC 2 op 10 Maart om 21:00 te siene wees.