Gholfnuus

THABAZIMBI – Die eerste borgdag van die jaar was ‘n groot sukses. Elephant Lifting en Pat Smith met sy span verdien almal se dank vir die dag. Julle het ‘n mooi voorbeeld gestel.
Ryno Kruger en Hans Human met 49 punte is die wenners van die dag. Bernie Gous en Pietie Terblanche met 48 was tweede. Vier pare eindig met 47 en na ‘n uittel is Neels Meyer en Patrick Fourie derde. Daar was pryse tot by die sewende plek en nog ‘n hele paar gelukkige trekkings ook.
Louis van die Deegverrassings het weer die dag se eetgoed verskaf en dit was weereens soos altyd net puik.
Elephant Lifting is ook die borg van die Sundowner kaarte. Hierdie kaarte is net vir 9 putjies elk en spelers wat die Pick ‘n Pay Sundowner op Woensdae speel moet asseblief van hierdie kaarte gebruik maak.
Daar is verlede jaar met ‘n Eklektiek kompetisie begin omdat dit ‘n baie populêre formaat by die meeste klubs is. Dit lyk egter of ons lede nie baie ywerig is om hier daaraan deel te neem nie. Asseblief manne, en dames ook, neem deel.
Reël 6-6 b lees as volg: “After completion of the round, the competitor should check his scoreboard for each hole and settle any doubtful points with the Committee. He must ensure that the marker or markers have signed the score card, sign the score card himself and return it to the Committee as soon as possible. PENALTY FOR BREACH OF RULE 6-6 b: Disqualification.”
Die program vir hierdie maand lyk soos volg: Op 3 Maart is dit 3 bal Alliansie, spelers kies hulle eie maats. Die Klubkampioenskap vind op 12 Maart plaas. Dit behels 36 putjies Slagspel vir die dag. Spelers wat nie daarvoor kans sien nie, kan egter ook net die tweede 18 putjies speel. Sages is hier op Thabazimbi op 17 Maart en op 18 Maart is die Interaksie Gholf. Die Liga op Rooiberg is op 19 Maart waar Thabazimbi teen Amandelbult en die Veterane teen Lost City speel. Tuis sal dit IPS wees.
Die Beterbal is dan op die laaste Saterdag van die maand, 26 Maart.
Onthou asseblief om u naam betyds op te skryf. Die program is ook altyd onderhewig aan verandering as dit dalk nodig mag wees.
Lede moet asseblief hulle name vir die liga op die lys skryf, want Rooiberg wat baie min lede het mag van Thabazimbi se spelers gebruik. Dan is daar ook nog Veterane wat gekies moet word. Die veterane word gekies uit spelers van die ligaklubs wat ouer as 50 is en verkieslik voorheen liga gespeel het.

Science Of Sport – Golf

Great Golf Courses Of Southern Africa

Golf: Greatest Ever Moments