Opleiding van plaaswerkers
Die Soutpansberg DLU in samewerking met “Skills for Africa” het ‘n opleidings projek in die Soutpansberg distrik van stapel laat loop. Die opleidingsprojek het reeds in 2004 begin. Al die kursusse is PAETA geregistreer.
Die volgende kursusse is onder andere aangebied: Trekker-, Laaigraaf- en Vurkhyser Operateurs, Besproeiings Operateurs, Toedien van Chemiese Middels, Brandbestryding, Basiese Eerstehulp, Gesondheid en Veiligheid, Lewensvaardigheid, 6 M, HIV/VIGS, Draadspan en ander kursusse.
Gedurende 2004 het 630 plaaswerkers sertifikate ontvang. Plaaswerkers van Levubu, Louis Trichardt en Waterpoort gebiede het deelgeneem. Mnr Meiring, DLU voorsitter van die Soutpansberg streek, het die boere bedank vir hul bereidwilligheid om tyd aan opleiding af te staan.
Mnr Meiring het verduidelik dat die kursusse op die plase in die gebied aangebied was en die vaardigheidsopleiding was prakties van aard. Ongeveer 70% van die opleidingstyd is aan praktiese opleiding bestee. Boere het bevestig dat die produktiwiteit en gesindheid van plaaswerkers baie verbeter het nadat hulle die kursusse voltooi het.
Daar is aan die begin van Februarie 2005 begin met verdere opleiding in die Levubu gebied van ongeveer 100 plaaswerkers. Mnr Meiring het aangedui dat die opleiding slegs die begin is. Soutpansberg DLU se doelwit is om elke plaaswerker wat in diens van ‘n lid van die TLU – SA is, ten minste een kursus per jaar te laat doen om die vaardigheids vlakke van plaaswerkers drasties te verbeter tot die voordeel van die werknemer en die werkgewer.