Hormoonvervangingsterapie (HVT) – Vervolg – Vroueblad
Sal ek gewig optel?
Gewigstoename is ‘n algemene probleem by alle mans en vroue bo 50 jaar. 70% van middeljarige vroue tel gewig op, en daar is in hierdie opsig geen verskil tussen gebruikers en nie-gebruikers van HVT nie.
Is ek vrugbaar as ek HVT gebruik?
HVT vervang slegs hormone en maak u nie weer vrugbaar nie. Indien u egter voor u menopause met HVT begin, wanneer u nog maanstondes het (of onlangs een gehad het) kan u nie op HVT staatmaak om as voorbehoeding te dien nie. Na die menopause (as u maandstondes opgehou het), is voorbehoeding nie meer nodig nie en kan HVT alleen gebruik word.
Hoe lank moet ek met HVT aanhou?
Indien HVT gebruik word om die simptome van estrogeentekort (soos voorheen bespreek) te verlig, dan is dit redelik om na 4 of 5 jaar die dosis te verminder en te kyk wat u lewenskwaliteit is. By vroue met ‘n groot risiko vir osteoporose en wat menopousale simptome ondervind, kan terapie vir 10 tot 15 jaar toepaslik wees. By diegene met verhoogde risiko van osteoporose sonder menopousale simptome, is daar alternatiewe middels (nie-hormonaal) wat gebruik kan word.
In wat se vorm is HVT beskikbaar?
1. Tablette
2. Plakkers of jel
3. Inolantings wat onderhuids geplaas word
4. Vaginale pille, ringe of rome
Kan ek kalsiumtablette neem in plaas van HVT?
Na die menopause sal die vereiste kalsiuminname nie ten volle geabsorbeer word nie, tensy estrogeen daarmee saam geneem word. Na die menopause word albei dus benodig om osteoporose te voorkom. Kalsium moet liefs op natuurlike wyse in die dieet geneem word in die vorm van melk, joghurt kaas of roomys. Laevet suiwelprodukte wat meer kalsium bevat is ‘n goeie opsie as u u vetinname moet inkort. U kan ‘n geskikte kalsiumaanvulling gebruik as u nie drie porsies van bogenoemde per dag kan inneem nie. Kalsiumaanvulling word gewoonlik saans geneem om absorpsie te verbeter.
Is natuurlike of kruiemiddels van waarde?
Gewoonlik ontbreek wetenskaplike studies om die veiligheid en effektiwiteit van hierdie middels te bepaal. Daar is aanvanklike aanduidings dat soja en sekere plantaardige estrogene swak voordelige effekte mag hê, maar hul veiligheid en effektiwiteit oor die langtermyn is nie bestudeer nie. Tot op hede toon wetenskaplike studies dat ekstrakte van plantaardige estrogene geen groter uitwerking op menopousale simptome het as plasebos (‘n troospil) nie. Dit is in skrille kontras met die klinkklare effektiwiteit van HVT in soortgelyke, streng gekontroleerde wetenskaplike studies.
Nuttige wenke:-
* ‘n Gesonde leefwyse is baie belangrik. Dit help veral baie om op te hou rook. Rokers se menopouse begin gemiddels twee jaar vroëer, en hulle het dikwels sterker menopousale simptome.
* Vermy ook oormatige gebruik van alkohol (meer as gemiddeld een drankie per dag), asook te veel kafeien.
* Gewigdraende oefening soos stap (30 min elke dag) help baie.
* Neem voldoende kalsium in, verkieslik as deel van u dieet.
* Alhoewel u nie meer ‘n baba kan hê nie, behoort u lewe nog steeds so vol, bevredigend en produktief te wees as wat u dit wil hê. Dit is nou meer as ooit tevore belangrik om na u eie gesondheid om te sien.
Geniet die feit dat u nou deel van ‘n nuwe generasie is met ‘n lewensverwagting wat tot in die 80’s strek!
Ek groet tot volgende keer.