ATKV laat drome waar word
Veertig van Gauteng se kinderpasiëntjies van Reach for a Dream, het verlede week vir ‘n naweek vol pret na Natalia, die ATKV se vakansieoord vertrek. Hierdie jong pasiënte tussen die ouderdom van ses en twaalf jaar, vorm deel van Reach for a Dream se projek.
Reach for a Dream wil graag kinders wat aan lewensgevaarlike siektes ly se drome laat waar word. Meeste van hierdie kinders is terminaal siek en hulle kanse op oorlewing is baie skraal. Baie van die kinders kom uit agtergeblewe gemeenskappe met bitter min geld vir mediese onkostes en daarom is daar ook nie sprake van drome wat bewaar kan word nie. Baie van hul ouers word finansieel uitgeput. ‘n Naweek by die see, ‘n vliegrit of vakansie by die see is heeltemal buite die kwessie.
Daar is ook baie hartseergevalle van kinders wat by die hospitaal afgelaai word nadat hulle met ‘n siekte gediagnoseer is en daarna sien hulle hul ouers dalk een maal per jaar. Die ATKV bied vir die afgelope vier jaar Projek Sonskyn aan wat toesien dat minderbevoorregte kinders ‘n opwindende naweek ervaar. Die ATKV het besluit om, saam met Reach for a Dream, veertig kinders se drome te laat waar word deur hulle see toe te neem.
Kulula.com het saamgespan en sorg vir ongelooflike goedkoop tariewe vir retoer-vliegkaartjies vir al veertig kinders, drie verpleegsters en ook vrywillige helpers. Die drome van hierdie kinders word ‘n werklikheid wanneer hulle vir die eerste keer in ‘n vliegtuig en daarna vir die eerste keer in hulle kort lewentjies die warm sand van Natal ervaar en die see sien.
Daar is altyd ‘n behoefte aan geskenkies soos speelgoed en klere wanneer kinders met vakansie wegneem word asook aan kospakkies vir die vliegrit.
Mense wat graag meer inligting oor hierdie projek wil bekom of ‘n skenking wil maak, kan gerus die projekorganiseerder, Suzann Prinsloo kontak by (011) 919-9000.